Nuus 07:00
BULLETIN 21 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa kondig 29 Mei as stemdag af
# Die Hooggeregshof gaan uitspraak lewer oor die ANC se kaderontplooiing
# En tennis, twee Suid-Afrikaners is deur na die tweede ronde van die WIPHOLD internasionale vrouetoernooi
# President Cyril Ramaphosa het bevestig dat die nasionale en provinsiale verkiesing op 29 Mei vanjaar sal plaasvind. Die president sê hy het die datum met die Onafhanklike Verkiesingskommissie bespreek. Presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa het ook ‘n vergadering met al nege provinsiale premiers en die OVK belê om die stand van gereedheid vir die verkiesing te bespreek:
# Die Hooggeregshof in Pretoria gaan uitspraak lewer oor die DA se saak wat die grondwetlikheid en wettigheid van die ANC se kaderontplooiingsbeleid betwis. Dit volg ná die DA se oorwinning in die Konstitusionele Hof, wat die ANC opdrag gegee het om sy kaderontplooiingsrekords bekend te maak. Die DA-leier, John Steenhuisen, en die nasionale woordvoerder vir die Staatsdiens en Administrasie, Leon Schreiber, sal die verrigtinge na verwagting bywoon.
# Die Vryheidsfront Plus sê dit sou wensdenkery wees om ‘n sinvolle uitkyk te hê op die verwagting vir vandag se begrotingsrede. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gaan vandag die regering se prioriteite uiteensit oor onder meer finansiële, ekonomiese en maatskaplike verpligtinge. Wouter Wessels van die VF Plus sê strukturele hervormings is nodig om die institusionele struikelblokke na ekonomiese groei te verwyder:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het die Spesiale Tribunaal se besluit verwelkom om die toekenning van ʼn tender van 113,2-miljoen-rand aan LNG Scientific ongeldig en onregmatig te verklaar. Die Gautengse Gesondheidsdepartement het die kontrak aan die privaat maatskappy toegeken om persoonlike beskermingstoerusting te verskaf. Die Spesiale Ondersoekeenheid het egter bevind ʼn mededingende tenderproses is nie gevolg nie en die kontrak se pryse was hoog. Die eenheid sê LNG was ook nie op die regering se sentrale verskaffersbasis vir die voorsiening van persoonlike beskermingstoerusting geregistreer toe die kontrak toegeken is nie.
# Amerika het ʼn konsepresolusie ge-veto wat Algerië by die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad ingedien het waarin ʼn onmiddellike skietstilstand in Gaza gevra word. Dertien van die 15 lede het Algerië se resolusie ondersteun terwyl die Verenigde Koninkryk buite stemming gebly het. Amerika het in sy eie konsepresolusie gevra dat ʼn tydelike skietstilstand so gou moontlik ingestel word op voorwaarde dat alle gyselaars vrygelaat word. Die Verenigde Arabiese Emirate se adjunk-ambassadeur by die VN, Mohamed Abushahab, sê hy is diep teleurgesteld deur die uitslag van die stemmery:
# Tennis: Die Suid-Afrikaners, Isabella Kruger en Lilitha Ndungane, is deur na die tweede ronde van die WIPHOLD Internasionaal in Pretoria. Kruger is deur nadat haar teenstander, die Nederlander Indy de Vroome, moes onttrek terwyl sy met 3-6 en 3-0 agter was. Die 18-jarige Ndungane het haar landgenoot, Kaitlyn Ramduth, met 6-0 en 6-1 geklop. Die heersende Wimbledon- junior kampioen, Clervie Ngounoue van Amerika, en die toernooi se gunsteling, Laura Pagossi van Brasilië, is ook deur na die tweede ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-63-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-27-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….