Nuus 07:00
BULLETIN 10 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA gaan die ANC se kandidaatvoorleggingsaak teenstaan
# Die ANC stel ‘n forensiese ouditeur aan om die geknoei met Oos-Kaapse kandidaatlyste te ondersoek
# En krieket: Die Protea-vroue speel vir die eerste keer teen Zimbabwe in ‘n T20-reeks
# Die DA het dokumente by die Verkiesingshof ingedien vir toestemming om in te gryp by die ANC se poging om 181 kandidate in ses munisipaliteite te stel vir die munisipale verkiesing in November. Die ANC sê hy kon weens probleme met die Verkiesingskommissie se stelsel nie die spertyd van vyf namiddag op 28 Augustus haal nie. Die kommissie ontken dit. Jan De Villiers van die DA sê reëls en sperdatums moet regverdig toegepas word op elke politieke party wat aan die verkiesing wil deelneem:
Intussen het die ANC volgens berigte ‘n forensiese ouditeur aangestel om moontlike knoeiery met die party se Oos-Kaapse kandidaatlyste te ondersoek. News24 berig oor bewerings dat daar met lyste geknoei is en oor onreëlmatighede in die werwingsproses van raadslede in munisipaliteite soos Nelson Mandelabaai, Alfred Nzo en Buffalo City. Die forensiese ouditeur, Mahier Tayob, is aangestel en ʼn verslag word binne drie dae verwag.
# Die Suid-Afrikaanse Brouery-stigting het aansoeke geopen vir sy 18 maande lange Tholoana-ondernemingsprogram, wat gevestigde ondernemings ondersteun deur mentorskap en sake-ontwikkeling. Die program teiken Suid-Afrikaanse ondernemings met minstens 51-persent swart eienaarskap, wat minstens twee jaar reeds bestaan en betalende kliënte het. Voorkeur sal gegee word aan ondernemings wat deur vroue, jeugdiges en gestremdes besit word, asook dié in plattelandse en township-gemeenskappe.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê sy departement verskerp pogings om misdaad, dwelmmisbruik, bendebedrywighede en die besit van gevaarlike wapens by skole te beveg. Hy het gister saam met wetstoepassers vier skole deursoek: Phandimfundo Secondary School, Lekamoso Secondary School in Etwatwa, Rivoni Secondary School en Hulwazi Secondary School in Daveyton. Maile sê onaangekondigde deursoekings wat gelyktydig plaasvind, is ʼn poging om veiligheid by skole in die provinsie te verbeter:
# Die Britse minister van Buitelandse Sake, Ed Miliband, verwerp die idee dat Britse Jode in gevaar is nadat sanksies ingestel is teen Israelse nedersettings in die Wesoewer. Brittanje het ʼn verbod geplaas op handel met sogenaamde onwettige Israelse nedersettings en beskuldig Benjamin Netanyahu se regering van etniese suiwering. Die Britse hoofrabbi, Ephraim Mirvis, glo die sanksies sal slegs daarin slaag om die ekstremisme, wat die regering juis wil teiken, te vererger. Miliband sê enige persoon wat Britse Jode teiken oor die Israelse regering se optrede, is skuldig aan anti-Semitisme:
# Krieket: Die Protea-vroue gaan van môre die heel eerste keer ‘n T20-reeks teen Zimbabwe speel. Al vyf wedstryde word op die Queen’s-sportklub in Bulawayo beslis. Suid-Afrika se kaptein, Laura Wolvaardt, is opgewonde oor die vooruitsig om ‘n ander Afrika-land op senior internasionale vlak te pak. Sy, Annerie Dercksen, Karabo Meso en Kayla Reyneke is die enigste gereelde spelers in die groep, terwyl die nuwelinge Caitlin Wyngaard, Luyanda Nzuza, Nthabiseng Nini en Jae-Leigh Filander hulle buiging vir Suid-Afrika kan maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-42-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-413-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 102-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….