Nuus 07:00
BULLETIN 20 Februarie 7 vm
Goeiemôre/ Ek is……..
In die bulletin:
# Change Starts Now onderneem om werkloosheid, misdaad en gesondheidsorgkwessies te pak
# Premier Alan Winde sê die Wes-Kaap gaan die eerste provinsie sonder beurtkrag wees
# En, die Palestyne sê in die Internasionale Geregshof die volksmoord in Gaza is weens dekades se strafloosheid
# Die nuwe politieke beweging Change Starts Now onderneem om werkloosheid te pak, misdaad te bestry en seker te maak daar is genoeg gesondheidsorggeriewe vir Suid-Afrikaners. Die leier, Roger Jardine, het die beloftes gemaak voor die komende verkiesing. Hy sê die party is daaraan toegewy om die maatskaplik-ekonomiese uitdagings op te los waarmee gemeenskappe te kampe het. Hy erken ook die kwessies van ernstige werkloosheid, onvoldoende behuising en sanitasie, en beperkte toegang tot noodsaaklike dienste soos skoon water, elektrisiteit en sanitasie wat steeds gemeenskappe ontwrig:
# Finansiële sektor-instellings en reguleerders, insluitend die Finansiële Intelligensiesentrum en die Reserwebank, werk saam om Suid-Afrika van die gryslys te verwyder. Die Finansiële-aksie-taakspan, verantwoordelik vir die bekamping van geldwassery en terrorismebefondsing, het die land se maatreëls as onvoldoende beskou. Die plasing op die gryslys verhoog die ondersoek na Suid-Afrika se globale finansiële transaksies. Die Nasionale Tesourie het belanghebbendes aangemoedig om by te dra tot die pogings. Ondanks gedeelde doelwitte kan spanning egter ontstaan tussen reguleerders en gereguleerde instellings namate strenger regulasies vir die herstel ingestel word.
# Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het ‘n streng waarskuwing gerig aan misdadigers wat polisiebeamptes aanval en sê die reg gaan geen genade met hulle betoon nie. In die derde kwartaal van 2023/2024 is 22 polisiebeamptes vermoor waarvan 12 van diens af en tien aan diens was. Twaalf mense is in hegtenis geneem. Lebeya sê drie is skuldig bevind en deel vier lewenslange tronkstrafvonnisse en 38 jaar tronkstraf. Hy voeg by ʼn aanval op ʼn polisiebeampte is ʼn aanval op die staat.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê beurtkrag plaas steeds ʼn ernstige demper op die provinsie se ekonomiese groei, vererger werkloosheid en raak inwoners se veiligheid en waardigheid. Hy het gisteraand in die Paarl sy Provinsiale Rede gelewer. Winde sê die provinsie het sedert beurtkrag begin het, tussen 48,6-miljard-rand en 61,2-miljard-rand verloor. Hy sê die Wes-Kaap is op pad om die eerste provinsie in die land te word wat geen beurtkrag het nie:
# Die Palestynse minister van Buitelandse Sake, Riyad al-Maliki, sê die volksmoord in Gaza is die gevolg van dekades se strafloosheid en gebrek aan optrede. Die Internasionale Geregshof het gister begin met verhore oor die regsgevolge van Israel se besetting van Palestynse gebiede sedert 1967. ʼn Ongekende 52 lande sal na verwagting getuig. ʼn Prokureur wat Palestina verteenwoordig, Namira Negm, het aan die Verenigde Nasies se hoogste hof gesê Israel het talle menseregte oortree:
# Tennis: Suid-Afrika het vyf spelers in die trekking vir die WIPHOLD internasionale vroue-toernooie wat vandag in Pretoria begin. Die week lange toernooi is een van twee agtereenvolgende W50-toernooie van die Internasionale Tennisfederasie en die prysgeld beloop 760-duisend-rand elk. Die trekking sluit 17 spelers in wat onder die wêreld se top-500 tel. Die Suid-Afrikaanse groep sluit vier promotorskeuses in, naamlik Isabella Kruger, Zoë Kruger, Kaitlyn Ramduth en Danielle Dai Chapman. Die tiener Lilitha Ndungane is deur na die kwalifiserende rondes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-688-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-17-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….