Nuus 07:00
BULLETIN 9 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit vertel die Europese Parlement rassebeleid dryf Afrikaners landuit
# Die regering versterk sy wetstoepassingvermoë teen migrasie-oortredings
# En Israel sluit die Britse konsulaat in Jerusalem
# Solidariteit sê die verborge waarheid oor Suid-Afrika is dat ras weereens die staat se ordeningsbeginsel is. Jaco Kleynhans van die organisasie het ‘n boodskap gelewer by ʼn vergadering van die Patriotte vir Europa in Brussel. Hy het aan die Europese Parlement gesê die Suid-Afrikaanse regering se toenemende rassewetgewing, asook die staat se verval en vyandigheid teenoor minderhede, verdryf Afrikaners stelselmatig uit hul eie land. Kleynhans sê die doel moet die einde van rassewetgewing wees:
# Die Departement van Gesondheid sê meer as 55-duisend mense het begin om lenakapavir te gebruik, ‘n inspuitbare medikasie wat twee keer per jaar toegedien word om MIV te voorkom. Die program is by 360 openbare gesondheidsfasiliteite in ses provinsies bekendgestel, met vroue wat 71-persent van die ontvangers verteenwoordig. Gauteng het die hoogste aantal inspuitings aangeteken, gevolg deur KwaZulu-Natal. Foster Mohale van die departement sê die program word noukeurig gemonitor om te verseker dat die medikasie veilig is en beskikbaar bly:
# Die regering sê as deel van sy optrede teen migrasie-oortredings, teiken multidissiplinêre wetstoepassingsoperasies onwettige oorgrens-beweging, vervalste dokumentasie, uitbuiting van arbeiders, mensehandel-netwerke en onwettige mynbedrywighede. Tot op hede is 205 gevalle geregistreer, 354 mense is gearresteer en 123 gevalle is op die hofrol geplaas. Meer as 350-duisend inspeksies is uitgevoer by nywerhede en in sektore, insluitend fabrieke, supermarkte en spazawinkels. Die regering sê om wetstoepassing te versterk, is ses-duisend-317 inspekteurs opgelei vir multidissiplinêre wetstoepassingsoperasies.
# ActionSA het gratis MyCiTi-busritte op weeksdae vir inwoners van Kaapstad belowe indien die party in die plaaslike regeringsverkiesing van 4 November verkies word. Die party stel ‘n toeristeheffing van ongeveer ‘n 100-rand per nag op korttermynverblyf voor om die diens te help finansier. Hulle beplan ook om ‘n MyCape-kaart in te stel om MyCiTi, treine en minibustaxi’s te verbind. Die burgemeesterskandidaat van ActionSA in Kaapstad, Dereleen James, sê die plan is daarop gemik om vervoerkoste vir inwoners te verminder.
# Israel se regering gaan die Britse konsulaat in Jerusalem sluit nadat Brittanje sanksies ingestel het teen goedere wat in die Wesoewer vervaardig word. Dit sal waarskynlik Brittanje se vermoë om in Palestina te werk kniehalter, omdat dit nie ʼn buitepos in die Wesoewer of Gaza het nie. Israel verbied ook 12 verteenwoordigers wat deur Brittanje aangewys is om die land binne te gaan. Israel se minister van Buitelandse Sake, Gideon Saar, sê sy land sal ook teenmaatreëls instel teen ander lande wat teen Israel optree of wil optree:
# Rugby: Die All Black-afrigter, Dave Rennie, sê sy span sal uiteindelik moet aanpas by die manier waarop skeidsregters skrums interpreteer. Ná die tweede toets in Kaapstad het hy die Springbokke beskuldig dat hulle “rondom” die vaste skrums loop. Nieu-Seeland het in hulle 29-24-nederlaag in die derde toets in Johannesburg ook soms in die skrums gesukkel. Rennie sê hulle het tydens die reeks hul kommer met Wêreldrugby bespreek, veral oor die Springbokke se benadering tot skrums, maar erken hulle stem nie saam oor die kwessie nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-863-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-372-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 101-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….