Nuus 07:00
BULLETIN 19 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunk-resident Paul Mashatile ontken berigte dat hy sy woordvoerder teen klagte van seksuele teistering beskerm
# Brasilië se president beskuldig Israel van volksmoord in Gaza
# En gholf, die Fransman David Ravetto wen die Dimension Data Pro-Am
# Adjunkpresident Paul Mashatile se kantoor sê berigte dat hy en sy personeelhoof, Mduduzi Mbada, sy woordvoerder Vukani Mde beskerm, is vals. Sunday World beweer die adjunkpresident en Mbada het sedert Augustus verlede jaar nie teen Mde opgetree nadat hy van seksuele teistering beskuldig is nie, totdat ‘n onafhanklike ondersoeker teen die einde van verlede jaar aangestel is. Mashatile se kantoor sê die adjunkpresident weet daar is ʼn proses in die Presidensie aan die gang om die bewerings teen die geskorste Mde te ondersoek.
# Die Referendum Party se leier, Phil Craig, sê die party is teleurgesteld, maar nie verras nie, dat die Veelpartyhandves sy aansoek om by hulle aan te sluit, verwerp het. Hy sê sy party het beloof hulle sal op nasionale vlak saam met die Veelparty-groep stem en help om die ANC uit die kussings te lig. Craig sê nie een geloofwaardige meningspeilingsmaatskappy het die Veelpartyhandves selfs ‘n buitekans gegun om ná 2024 die bewind oor te neem nie:
# Die Stad Tshwane sê hy het herwinningsplanne ontwikkel om seker te maak toelaes word voor die einde van die huidige boekjaar gebruik. Die metro moet dalk binnekort weens swak prestasie en nienakoming 630-miljoen-rand verbeur wat deur die Nasionale Tesourie as kapitaaltoelaes toegeken is. Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê hulle het aan die tesourie geskryf om te verduidelik hoe die fondse voor die einde van die huidige boekjaar bestee gaan word:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, lewer vandag sy provinsiale rede by die Hugenote-gemeenskapsaal in Klippiesdal in die Paarl. Sy kantoor sê hy sal aan die provinsie se mense terugvoer gee oor die provinsiale regering se vordering met die vermindering van beurtkrag, met werkskepping en veiligheid. Hy voeg by Winde sal ook uiteensit hoe die provinsiale regering op sy suksesse gaan voortbou deur seker te maak inwoners en sakeondernemings se behoeftes word ondersteun.
# Brasilië se president, Luiz Inacio Lula da Silva, het Israel van volksmoord teen Palestynse burgerlikes in die Gaza-strook beskuldig. In reaksie op ʼn Hamas-geleide aanval waarin een-duisend-200 mense dood is, het Israel met ʼn militêre veldtog in die Gaza-strook begin. Meer as 28-duisend-400 Palestyne, meesal vroue en kinders, is reeds dood. Da Silva het by die Afrika-unie se beraad in Addis Abeba, Ethiopië, gesê wat in Gaza gebeur is dieselfde as die Jodeslagting toe Hitler besluit het om Jode dood te maak.
# Gholf: David Ravetto van Frankryk het die Dimension Data Pro-Am op Fancourt gewen om sy eerste titel by die Sonskyntoer en die Europese Uitdaagtoer in te palm. Hy was twee houe voor Sam Hutsby van Engeland wat tweede was. Die Suid-Afrikaners Hennie du Plessis en Robin Williams, en die Spanjaard Victor Pastor was gesamentlik derde op elf onder baansyfer. Onder die vroue het die Skot, Kylie Henry, ʼn oorwinning van twee houe in die Dimension Data Ladies Pro-Am behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-153-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-20-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….