Nuus 07:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 18 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering versoek burgers om dié naweek te registreer om te stem
# Die GOOD party sê die misdaadstatistiekeverslag beklemtoon Suid-Afrika is diep verwond
# En, rugby: Die Bulle en die Leeus byt in die stof in VRK-wedstryde
# Die Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel doen ‘n beroep op alle stemgeregtigde kiesers om vir die komende nasionale en provinsiale verkiesing te registreer. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie bied vandag en môre sy eerste spesiale kiesersregistrasienaweek aan. Suid-Afrikaners van 16-jaar en ouer kan registreer, besonderhede laat bywerk of inligting nagaan by alle stemlokale van agtuur soggens tot vyfuur namiddag. Die Departement van Binnelandse Sake sal stemgeregtigde kiesers bystaan om identiteitskaarte vir registrasies te bekom. Die regering doen ‘n beroep op burgers om ‘n demokratiese omgewing en ‘n vreedsame kiesersregistrasienaweek te handhaaf.
# Die GOOD Party sê die jongste misdaadstatistieke onderstreep die onrusbarende werklikheid in Suid-Afrika, met bykans sewe-duisend moorde en meer as 13-duisend seksuele aanrandings in slegs die tweede kwartaal. Volgens die minister van Polisie, Bheki Cele, was daar ʼn geringe daling in die moordsyfer maar ‘n algehele toename van 2,1-persent in gewelddadige kontakmisdade. Ten spyte van effense verbetering, het die moordsyfer in vyf provinsies gestyg. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê die doeltreffende vermindering in misdaad vereis verhoogde wetstoepassing en omvangryke oplossings, met die fokus op maatskaplike en ekonomiese geregtigheid:
Speel klankgreep: ENG HerronOnCrimeStats
# Die ANC in die Wes-Kaap verwelkom die toekenning van visvangregte van 15-jaar aan kleinskaalse vissers deur die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy. Die party neem kennis van die nood en marginalisering wat vissersgemeenskappe ervaar en hoop dat hierdie regte die lewensbestaan binne die vissersgemeenskappe aansienlik sal verbeter. Die woordvoerder van die ANC, Muhammad Sayed, sê hierdie gebeure is veronderstel om geskiedkundige ongelykhede teen te werk en positiewe verandering vir alle begunstigdes uit benadeelde gemeenskappe te bevorder:
Speel klankgreep: ENG SayedOnFishingRights
# Die Regsvereniging van Zambië het president Hakainde Hichilema beskuldig van die vervolging van politieke teenstanders en die verkleining van die demokratiese ruimte. Hierdie verklaring volg nadat die leier van die opposisieparty, die Sosialistiese Party, Fred M’membe, in hegtenis geneem is op aanklagte van spioenasie wat verband hou met ‘n onderhoud met die Zimbabwe Uitsaaikorporasie. M’membe beweer dit hou verband met sy kommentaar oor Zimbabwe se verkiesings. Die vereniging spreek kommer uit oor die viktimisering van opposisieleiers. Hy voer aan die aankeer van opposisieleiers belemmer vryheid van spraak en kan Zambië se geskiedkundige rekord van bestendige regeringsveranderings ondermyn.
# En, laastens, Rugby: Die Bulle het die topposisie op die Verenigde Rugby Kampioenskap punteleer gisteraand verloor en afgeskuif na derde plek, weens swak dissipline wat hulle twee spelers laat verloor het in hulle laaste toerwedstryd teen die Skotse klub Edinburgh. Die kaptein, Marcell Coetzee, het in die 42ste minuut ‘n rooikaart gekry vir ‘n hoë kopduikslag, terwyl Cameron Hanekom toe ook van die veld afgestuur is omdat hy ‘n skrum laat ineenstort het. Edinburgh het met 31-23 gewen. Ulster is nou bo-aan die VRK-punteleer nadat hulle gisteraand in Belfast die Leeus met 24 -17 geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……….