Nuus 07:00
BULLETIN 8 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC nader die Verkiesingshof oor die besluit oor sy laat kandidatelyste
# Die Weermagunie waarsku teen die misbruik van die geld van die soldate in Kuba
# En rugby: Rassie Erasmus bring twee veranderinge aan vir die beslissende toets in Baltimore
# Die ANC het die Verkiesingshof genader om te appelleer teen die Verkiesingskommissie se besluit om nie indiening van kandidaatlyste ná die sperdatum toe te laat nie. Die party beweer “tegniese probleme” het veroorsaak dat hy die 28 Augustus-sperdatum om kandidate in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Vrystaat te registreer, misgeloop het. Die kommissie verwerp bewerings dat sy stelsel nie gewerk het nie en sê politieke partye het sedert Junie toegang tot die platform. Die ANC sê die kommissie se besluit om nie die kandidaatlyste te aanvaar nie, is gebaseer op wanvoorstelling van die reg.
Die Verkiesingshof het intussen ‘n dringende aansoek van die nuwe United Democratic Front verwerp om ekstra tyd te kry om wykskandidate vir die munisipale verkiesing te benoem nadat hy die 28 Augustus-sperdatum misgeloop het. Die UDF sê nadat hy geregistreer het, het hy slegs vier dae tyd gehad om kandidate te identifiseer en aan te stel. Die Verkiesingskommissie sê die Wet op Munisipale Verkiesings gee die kommissie nie gesag om ʼn individuele politieke party vry te stel van ʼn sperdatum wat wetlik op alle ander partye van toepassing is nie.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-unie doen ‘n beroep op ‘n onmiddellike ondersoek na berigte oor Suid-Afrikaanse Nasionale Weermaglede in Kuba. Hulle is na bewering gevra om vrywillige betalings van tot 15-duisend-rand uit hul toelaes te maak om behoeftige Kubaanse burgers te help. Pikkie Greeff van die SANWU vra vir ‘n ondersoek om vas te stel wie die betalings gemagtig het, hoe die geld gebruik is en of soldate onder druk was om by te dra:
# Die Polisie- en Gevangenisse-burgerregte-unie sê swak infrastruktuur by die Rooigrond- korrektiewe sentrum naby Mahikeng in Noordwes plaas gevangenisveiligheid in gevaar. Dit volg na die ontsnapping van ‘n gevangene. Die vakbond sê die fasiliteit ondervind lank reeds probleme, insluitend oorbevolking, watertekorte en beskadigde infrastruktuur. Popcru se provinsiale sekretaris, Johannes Dire, vra vir ‘n dringende ondersoek, herstelwerk en sekuriteitsbeoordelings, en waarsku korrektiewe beamptes moet nie vir breër infrastruktuurmislukkings blameer word nie:
# Die Verenigde Nasies se Menseregte-hoof, Volker Türk, waarsku dat kunsmatige intelligensie ʼn “bestaansrisiko vir die mensdom” kan word as dit nie beheer word nie. Hy sê KI-stelsels kan so magtig word dat hulle ontwikkelaars dit nie meer kan beheer nie. Türk het ook kommer uitgespreek oor die gebruik van KI in oorlogvoering, veral in die ontwikkeling van wapens wat sonder menslike ingryping dodelike besluite kan neem. Hy sê lande moet saamwerk om duidelike grense te stel:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het twee veranderinge aangebring aan sy beginspan wat die All Blacks in die derde toets in Johannesburg met 29-24 geklop het. Die twee spanne draf Saterdag in die bepalende wedstryd in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks in Baltimore, Amerika, uit. Damian Willemse vervang die beseerde Cheslin Kolbe as heelagter, en Morné van den Berg begin op skrumskakel. Cobus Reinach is op die plaasvervangersbank. ʼn Oorwinning op die M&T Bank-stadion beteken die Bokke wen die reeks met 3-1, maar die All Blacks hoop om die trofee te deel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-322-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-430-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 98-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….