Nuus 07:00
BULLETIN 16 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Build One South Africa versoek die minister van Finansies om op township-ekonomieë te fokus in sy begrotingsrede
# Donald Trump se verhoordatum in sy omkoopsaak word vasgestel
# En in Rugby: Die Springbok-slot RG Snyman is terug by Munster ná sy besering
# Build One South Africa vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om township ekonomiese groei te bespreek in sy begrotingsrede. BOSA bepleit ‘n omvattende plan om die ekonomie op te hef, werk te skep en lewenstandaarde te verbeter. Die party-leier, Mmusi Maimane, het hierdie week entrepreneurs van Soweto ontmoet om hul behoeftes te bespreek, wat gelei het tot aanbevelings vir Godongwana. Voorstelle sluit in, infrastruktuurverbeterings, spesiale ekonomiese sones, en mentorskap-programme. Maimane sien townships as ekonomiese spilpunte met die regte omgewing vir ekonomiese groei:
# President Cyril Ramaphosa sê die verhaal van Tintswalo is nog lank nie verby nie, want dit simboliseer betekenisvolle demokratiese vooruitgang. Volgens die president het Tintswalo, wat as ‘n kind van demokrasie bekend gestel is, diep aanklank gevind by miljoene mense regdeur die land. Ramaphosa het in sy reaksie op die staatsrede-debat die hutsmerk I am Tintswalo-beweging op sosiale media geprys. Dit versinnebeeld jongmense se suksesse om armoede te oorkom. Hy kritiseer teenstanders wat deur, wat hy noem, eng politieke belange aangevuur word en wat die prestasies van demokrasie verontagsaam:
# ’n Mega-hibriede-kragsentrale wat oor meer as 400 hektaar strek tussen die dorpe Ceres en Sutherland se befondsing is afgehandel. Die kragsentrale is een van elf wat deur die regering gekies is vir sy noodkragverkrygingsbodvenster van 2021, en bestaan uit ‘n mengsel van fotovoltaïese sonkrag-, windkrag- en battery-energiebergingstegnologie. Een van die projekontwikkelaars, G7 Renewable Energies, sê, met ‘n gesamentlike kapasiteit van byna 335 megawatt, is die Oya Energy Hybrid-projek die eerste en grootste hernubare energieprojek van sy soort in die wêreld wat tegnologiemengsel, grootte en prys betref.
# ’n Verhoordatum is vasgestel in Donald Trump se omkoopgeld-saak. Aanklaers beweer hy het die pornografie-ster Stormy Daniels en die voormalige Playboy-model Karen McDougal betaal om stil te bly, asook ‘n Trump Tower-deurwagter, wat beweer het dat hy ‘n buite-egtelike kind het. ’n Regter het aansoeke vir uitstel van Trump se prokureurs van die hand gewys en beslis dat die samestelling van die jurie op Maandag 25 Maart sal begin. Dit beteken Trump sal die eerste voormalige Amerikaanse president word wat op ‘n strafregtelike klag teregstaan. Trump ontken dat hy by enige van die seksuele voorvalle betrokke was.
# Rugby: Die Springbok-slot RG Snyman is vanaand in die opdrafspan van die Ierse span Munster in die Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting met Scarlets in Llanelli, Wallis, ná sy terugkeer van ‘n besering. Munster het bevestig hy het ten volle herstel van ‘n borsbesering wat hy tydens die Wêreldbeker-eindstryd in Oktober opgedoen het. Hy sou aanvanklik eers volgende maand terugkeer. Snyman verlaat Munster aan die einde van die seisoen om hom by Leinster aan te sluit en te herenig met die voormalige Bok-hoofafrigter, Jacques Nienaber, wat nou die span se senior afrigter is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-87-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-4-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-77-sent per vat.
# En laastens: Die Departement van Gesondheid doen ‘n beroep op gesondheidsorgwerkers om vroeë tekens van kinderkanker te identifiseer om die suksesvolle bestuur daarvan te verseker. Daar is ‘n geraamde een-duisend nuwe gevalle jaarliks in Suid-Afrika, dus is vroeë opsporing uiters belangrik. Algemene kinderkanker sluit in leukemie, limfoom en brein-, oog- en niergewasse. Die departement sê gemeenskapsbetrokkenheid is noodsaaklik om die ingewikkeldheid van kinder- en tienerkanker aan te pak. Die Wêreldgesondheidsorganisasie se Globale Veldtog vir Kinderkanker het ten doel om teen 2030 ‘n wêreldwye oorlewingsyfer van 60-persent te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….