Nuus 07:00
BULLETIN 17 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society veroordeel die regering wat die nasie aan sy eie lot oorlaat in die stryd teen misdaad
# Eskom se spanne werk onverpoos om bykomende opwekkingsvermoë te herstel
# En, rugby: Mbonambi speel sy eerste wedstryd sedert Wêreldbeker-eindstryd
# Action Society beskuldig die regering dat hy die land se burgers aan hulle lot oorlaat in die stryd teen misdaad. Hy sê volgens die derde kwartaal se misdaadstatistiek word daar elke 12 minute ‘n vrou verkrag. Daaglikse syfers sluit in 86 moorde, 88 pogings tot moord en 595 aanrandings met die doel om ernstig te beseer. Ten spyte van minister Bheki Cele se bewering dat die DNS-agterstand uitgewis is, sê Ian Cameron van Action Society baie sake is steeds onopgelos. Hy waarsku oor ʼn dreigende toename in moorde en ʼn gepaardgaande toename in kinderslagoffers:
Rise Mzansi sê intussen die jongste misdaadstatistiek skets ‘n grimmige prentjie, waarin meer as sewe-duisend moorde in die afgelope drie maande en ‘n kommerwekkende skuldigbevindingsyfer van slegs 19-persent onthul is. Die party kritiseer die regering se veiligheidsmaatreëls en vra die verwydering van president Cyril Ramaphosa en die minister van Polisie, Bheki Cele. Makashule Gana van Rise Mzansi sê die verslag het 15-duisend-284 seksuele misdrywe bekend gemaak, wat die dringende behoefte aan maatskaplike verandering beklemtoon:
# Die DA in Gauteng beplan om omvattende leefstyloudits van politici en amptenare in te stel indien hy in die provinsie aan bewind kom. Die Gautengse leier, Solly Msimanga, het tydens die party se sogenaamde ware provinsiale rede gesê die regering se korrupsie is die hoofoorsaak van Gauteng se agteruitgang. Msimanga beklemtoon die belangrikheid dat skuldige amptenare vervolg word en nie toegelaat word om te bedank en sodoende aanklagte vry te spring nie. Hy sê dit sal korrupsie doeltreffend bekamp.
# Eskom se kragstasiespanne werk te midde van fase twee-beurtkrag onverpoosd om bykomende opwekkingsvermoë te herstel. Onbeplande verliese staan tans op 13-duisend-733 megawatt terwyl agt-duisend-121 megawatt weens beplande onderhoud vanlyn is. Hulle werk daaraan om teen môre twee opwekkingseenhede by die netwerk te voeg. Beurtkrag is opgeskort tot vieruur vanmiddag waarna fase vyf tot môreoggend sal geld. Beurtkrag word dan weer van vyfuur môreoggend tot vieruur môremiddag opgeskort, gevolg deur fase een. Eskom sal môre ʼn omvattende bywerking gee vir die week wat voorlê.
# En, rugby: Die Haaie se Springbok-haker, Bongi Mbonambi, gaan sy eerste wedstryd speel nadat hy in die Wêreldbeker-eindstryd beseer is. Hy is op die bank vir vanmiddag se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting met die Stormers in Durban. Daar is sewe Bokke in die tuisspan se begin-vyftiental en Mbonambi en nog drie ander is op die bank. Die slot, Eben Etzebeth, is nie beskikbaar nie omdat hy ʼn knie-operasie moes ondergaan. Die afskoptyd op Kingspark is vyf-oor-vyf ná nog ʼn plaaslike derby tussen die Leeus en die Bulle in Johannesburg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….