Nuus 07:00
BULLETIN 13 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Democratic Union Party dreig met ‘n Konstitusionele Hofsaak indien president Ramaphosa versuim om kwessies rondom die Kieswet aan te pak
# Saftu sê die regering en Eskom kan nie beurtkrag beëindig nie
# En, die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die groot aantal werklose dokters
# Die Democratic Union Party dreig om die Konstitusionele Hof dringend te nader en die grondwetlikheid van sekere Kieswet-kwessies uit te daag. Die party eis president Cyril Ramaphosa moet ‘n spesiale Parlement-sitting uitroep om aandag te gee aan teenstrydighede tussen kieswette en grondwetlike bepalings. Die DUP versoek besluite oor die reg om te stem, herroepings-meganismes en belyningskwessies in wetgewing, wat ‘n grondwetlik gesonde raamwerk voor die verkiesing verseker. Die party meen huidige wette stel grondwetlike beginsels in gedrang en waarsku die howe sal ingryp as geen parlementêre optrede binne 14 dae plaasvind nie.
# Die Suid-Afrikaanse federasie van vakbonde, SAFTU, sê hy is woedend dat die Eskom-bestuur en die regering nie beurtkrag beëindig nie. Dit ten spyte van president Cyril Ramaphosa se versekering dat hulle die energie-voorraad stabiliseer. Die kragvoorsiener het die naweek fase ses-beurtkrag ingestel nadat nege opwekkingseenhede buite werking geraak het, wat neerkom op vier-duisend-400 megawatt elektrisiteit. SAFTU se woordvoerder, Trevor Shaku, sê dis kommerwekkend dat die ANC hulle swak bestuur van Eskom probeer rasionaliseer:
# Die Wes-Kaapse regering sê hoër fases van beurtkrag vererger die kragkrisis in die Sentraal-Karoo. Verskeie gebiede en plase worstel met ‘n week-lange kragonderbreking wat veroorsaak is deur skade aan infrastruktuur as gevolg van ongunstige weerstoestande. Die regering, in samewerking met Eskom, wend daadwerklike pogings aan om krag na die gebiede te herstel, en beloof verligting teen Donderdag. Die premier, Alan Winde, sê die situasie bly kritiek aangesien die inwoners voortdurende onderbrekings moet verduur:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Staatsamptenare sê hy is uiters bekommerd oor die toenemende aantal werklose dokters, veral in die Oos-Kaap. Byna 700 mediese dokters in die land kon sedert hulle gekwalifiseer het, nie werk kry in die openbare sektor nie. Dit word toegeskryf aan ‘n krimpende begroting, stygende salarisse en hoë eise weens mediese nalatigheid. Die vereniging sê die regering moet keer dat ʼn situasie ontstaan waar dokter weens ʼn gebrek aan werksgeleenthede gedwing word om die land te verlaat.
# Die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir Menseregte, Volker Türk, sê die moontlikheid van ʼn volle militêre operasie in Rafah is vreesaanjaend omdat ʼn groot aantal burgerlikes moontlik kan sterf. Israel het talle aanvalle in die suidelike stad van Gaza uitgevoer. Meer as 60 mense is dood terwyl twee gyselaars uit ʼn gebou bevry is. Türk sê ʼn volle militêre operasie in Rafah kan ook ʼn einde beteken aan humanitêre hulp wat deur deurgelaat en versprei is en sal groot gevolge vir die hele Gaza inhou.
# Krieket: Indië se kolwer, KL Rahul, wie se beskikbaarheid vir die orige drie toetse teen Engeland aan fiksheid onderhewig was, sal nie speel in die derde toets wat Donderdag begin nie. Hy het weens ʼn dybesering ook die tweede toets misgeloop, wat Indië gewen het om die reeks met een elk gelykop te maak. Rahul word deur Devdutt Padikka vervang. Indië se krieketbeheerraad sê Rahul is 90-persent wedstrydfiks en sal na verwagting vir die vierde en vyfde toetse gereed wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 50-duisend-77-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-19-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….