Nuus 07:00
BULLETIN 12 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dirco sê Suid-Afrika en Amerika se verhouding is steeds sterk
# Sanral maak ‘n 6,25%-aanpassing in sy toltariewe
# En, Israel se eerste minister is vasberade om met die aanval in Rafah voort te gaan
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê verhoudings tussen Suid-Afrika en Amerika is hartlik, joviaal en sterk. Wetgewing is by die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers ingedien wat sal vereis dat Amerika ‘n omvattende hersiening van sy verhouding met Suid-Afrika moet doen. Die bi-laterale wetsontwerp bedreig Suid-Afrika se vooruitsigte om voordeel te trek uit die Afrika Groei- en Geleentheidswet. Die departementele woordvoerder, Clayson Monyela, sê die wetsontwerp sal nie slaag nie:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap het tolpadtariewe met 6,25-persent aangepas wat op die eerste van volgende maand in werking tree. Die tariefverhoging is minder as verlede jaar se 6,58-persent aanpassing. Die tariewe word jaarliks in ooreenstemming met die Verbruikersprysindeks aangepas. Vusi Mona van Sanral sê tol-inkomste is nodig vir die onderhoud, bestuur en verbetering van tolpaaie asook vir die vereffening van skuld wat aangegaan word om ‘n tolpadprojek in te stel. Sanral bestuur tans ‘n padnetwerk van 22-duisend-262 kilometer regdeur die land.
# Die DA in Gauteng sê hy het strafregtelike klagtes teen die ANC in die provinsie gelê vir wat hy noem die opsetlike verwydering van die party se tussenverkiesingsplakkate verlede week in Ekurhuleni. Skade aan verkiesingsplakkate is ‘n strafregtelike oortreding en kan lei tot ‘n groot boete of tronkstraf. Haseena Ismail van die DA sê die land se demokrasie maak staat op politieke verdraagsaamheid en die voorval wys die ANC se desperaatheid terwyl hy hom gereed maak om Gauteng te verloor:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, sê die voortgesette werk van die provinsiale drank-owerheid is noodsaaklik om die skade wat met drankmisbruik verband hou, te bekamp. Tussen die eerste November 2022 en die 24ste November verlede jaar het die owerheid 169 boetes van meer as ses miljoen-rand aan gelisensieerde drankwinkels in die provinsie uitgereik. Allen sê dit is uiters kommerwekkend dat die meerderheid van die verslae oor nie-voldoening uit prioriteitsgebiede kom, insluitend Delft, Gugulethu en Atlantis.
# Die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê sy land se weermag gaan voort met sy beplande aanval in die dorp Rafah, in Gaza, en hou vol ‘n ontruimingsplan word beplan. Rafah het die jongste skuilplek vir meer as die helfte van die Gaza-strook se bevolking van 2,3-miljoen geword. Hamas sê ‘n Israeliese aanval in Rafah beteken die einde van gyselaarsonderhandelings. Netanyahu het aan ABC News herhaal ‘n oorwinning oor Hamas is binne bereik:
# Rugby: Die verdedigende kampioene, Ierland, het hulle indrukwekkende Sesnasies-vertoning voortgesit en Italië in Dublin met 36-nul afgeransel om ‘n bonuspunt-oorwinning te behaal. Danksy drieë deur Jack Crowley, twee deur Dan Sheehan en Jack Conan asook die vleuels James Lowe en Calvin Nash is Ierland na twee rondes nou bo-aan die punteleer. Italië het verlede week naelskraap met 24-27 teen Engeland verloor. Ierland wat volgende Saterdag teen Wallis te staan kom, het nou sedert 2022 elf agtereenvolgende wedstryde in die toernooi ingepalm.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 48-duisend-124-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-22-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….