Nuus 07:00
BULLETIN 25 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema beplan om ‘n mosie teen die speaker van die Nasionale Vergadering in te dien
# MISA versoek sy lede om nie by die March and March-betoging aan te sluit nie
# En die Statebondspele: ‘n Sterk Span SA is gekies vir die Glasgow-spele
# Die EFF-leier Julius Malema sê hulle gaan ‘n mosie by die Parlement indien en vra dat die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, bedank uit haar oorsigrol in die Ampsklagkomitee. Dit volg nadat Didiza besluit het om nie president Cyril Ramaphosa se aansoek vir ʼn interdik teen die ampsklagprosedures, teen te staan nie. Malema sê die speaker is verkeerd omdat sy nie die president se interdik teenstaan nie en voeg by dat sy versuim om die Parlement te beskerm:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê hy ondersteun nie onwettige optrede, geweld of burgerlike wetstoepassing nie, maar erken openbare frustrasies oor werkloosheid, misdaad en grensbestuur is verstaanbaar. Die vakbond het sy lede versoek om nie by die March and March-betogings op 30 Junie aan te sluit nie. Phakamile Hlubi-Majola van die vereniging sê die betogings word nie deur arbeidswetgewing beskerm nie en kan tot dissiplinêre stappe lei wat ontslag insluit:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika se mynbousektor funksioneer ver onder sy potensiaal en benodig dringende hervorming om sy bydrae tot die ekonomie te herstel. Volgens die instituut het mynbou se aandeel aan die bruto binnelandse produk gedaal van 21-persent in 1980 tot ongeveer sewe-persent, met duisende werksgeleenthede wat as gevolg van dalende beleggings in eksplorasie verlore gegaan het. Terence Corrigan van die instituut blameer die huidige regulatoriese mynbouraamwerk, insluitend lisensiëringsvertragings en eienaarskapvereistes, wat beleggersvertroue verswak.
# Die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, veroordeel die verslegtende finansiële toestand, ineenstorting van dienslewering, vervalle infrastruktuur en uiters swak gevolgebestuur in Gautengse munisipaliteite. Uit die provinsie se elf munisipaliteite het slegs Midvaal en Wes-Rand skoon oudits ontvang. Johannesburg se oudit het in die 2024/2025-boekjaar verswak van ʼn ongekwalifiseerde ouditmening tot ʼn gekwalifiseerde ouditmening. Dit volg nadat die metro versuim het om betekenisvolle foute reg te maak wat tydens die ouditproses geïdentifiseer is. Maluleke sê Johannesburg het dringend ingryping nodig van oorsigstrukture asook die uitvoerende gesag.
# Die Internasionale Atoomenergie-agentskap sal binnekort inspeksies in Iran uitvoer ná ʼn tussentydse vredesooreenkoms tussen Amerika en Teheran. Dit is ten spyte van teenstrydige verklarings van Iran en Washington. Iran se ministerie van Buitelandse Sake hou vol toegang tot sy beskadigde kernfasiliteite en kernmateriaal kan slegs binne die raamwerk van ʼn finale ooreenkoms hanteer word. President Donald Trump van Amerika beweer Iran het ingestem tot onbeperkte, omvattende kern-inspeksies. Die agentskap se hoof, Rafael Grossi, sê hulle moet nog die manier waarop dit gedoen word, bepaal:
# Statebondspele: Suid-Afrika se Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het ʼn sterk span atlete aangekondig om die land by die Statebondspele in Glasgow te verteenwoordig. Die atlete sal meeding in atletiek, swem, boks, gimnastiek, para-atletiek, netbal, judo, rolbal, gewigoptel, fietsry en rolstoel-basketbal. Atlete soos Chad Le Clos, Akani Simbine, Caitlin Rooskrantz, Bridget Calitz, Erin Gallagher, en Prudence Sekgodiso sal deelneem. Die Statebondspele vind van 23 Julie tot 2 Augustus in Skotland plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-774-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-997-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….