Nuus 07:00
BULLETIN 24 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister in die Presidensie vra vir groter streeksamewerking oor migrasie
# Die Ampsklagkomitee bespreek sy verwysingsraamwerk en die aanstelling van getuienisleiers
# En ‘n VN-ondersoek beskuldig Israel van volksmoord teen Palestynse kinders in Gaza
# Die adjunkminister in die Presidensie, Kenny Morolong, sê migrasie is lank reeds ‘n kenmerk van Suidelike Afrika se maatskaplike en ekonomiese landskap en groter streeksamewerking is nodig om dit te hanteer. Hy het gister die 31ste vergadering van die SAOG-mediatoekennings se Streeksbeoordelingskomitee in Johannesburg toegespreek. Morolong sê volhoubare oplossings vir migrasie moet die basiese oorsake van ontheemding aanspreek, ekonomiese geleenthede in lidlande skep, grensbestuur verbeter, en mensehandel en verwante misdade bekamp:
# Die parlementêre Ampsklagkomitee vergader vandag om sy konsep-opdrag en die proses om getuienisleiers aan te stel, te bespreek. Die komitee gaan voort met sy werk ten spyte van president Cyril Ramaphosa se dringende interdik-aansoek dat die werk gestaak word hangende ʼn hersiening van die onafhanklike paneel se Phala Phala-verslag. Die komiteevoorsitter, Makashule Gana, het ʼn teenaansoek ingedien. Hy sê aangesien die Konstitusionele Hof reeds die verslag na die komitee verwys het, is ʼn regsuitdaging teen die verslag irrelevant.
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika se mynboubeleid fokus op die verkeerde prioriteit deur veredeling te bevorder voordat basiese produksie-uitdagings opgelos word. Die buro het die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging se plan gekritiseer om belasting te hef op mineraaluitvoere om plaaslike verwerking af te dwing, wat mynbou kan benadeel en belegging kan verminder. Hy waarsku uitvoerbelastings en kwotas kan mynbou-aktiwiteit en werksgeleenthede verminder. Die regering word aangespoor om eers eksplorasiestelsels reg te stel en mynbou-uitsette te bou, en eers dan veredeling te oorweeg.
# Die DA sê hulle het die ANC in Ekurhuleni gedwing om in te stem tot hervormings om dienslewering te verbeter en inwoners te beskerm. Die stad het amptelik ‘n begroting van 71-miljard-rand vir die 2026/2027-boekjaar aanvaar. Solly Msimanga van die DA sê die party het vorige begrotings teengestaan weens kommer oor bekostigbaarheid, maar het ‘n hersiene ooreenkoms ondersteun nadat drie mislukte stemme die risiko van provinsiale ingryping en moontlike EFF-beheer oor die metro verhoog het:
# ʼn Ondersoekkommissie van die Verenigde Nasies sê Israelse owerhede en veiligheidsmagte het doelbewus Palestynse kinders geteiken wat gelei het tot volksmoord, misdaad teen die mensdom en oorlogsmisdade. ʼn Verslag deur die VN se onafhanklike ondersoekkommissie oor die Palestynse gebied, het gefokus op beweerde oortredings van internasionale reg, menseregtevergrype en die basiese oorsake van konflik tussen Israel en Palestyne. Israelse owerhede word in die verslag beskuldig dat hulle hongersnood as manier van oorlogvoering gebruik het. Israel se ministerie van Buitelandse Sake verwerp die verslag en sê dis propaganda.
# Krieket: Engeland se hoofafrigter, Brendon McCullum, het vier veranderinge aangebring aan die span vir die bepalende derde toets teen Nieu-Seeland wat Donderdag by Trent Bridge begin. Kaptein Ben Stokes en snelbouler Gus Atkinson is soos verwag terug in die groep nadat hulle vir een wedstryd geskors was. Draaibouler Shoaib Bashir en paaltjiewagter Jamie Smith, wat op vaderskapverlof was, is ook terug in die span. McCullum hou vol daar is geen probleem met die verhouding tussen hom en Stokes nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-961-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-94-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….