Nuus 07:00
BULLETIN 23 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika is daartoe verbind om handel en beleggings met China te bevorder
# Die Ampsklagkomitee dien ‘n beëdigde verklaring in teen president Ramaphosa se interdik
# En Andy Burnham word as ‘n nuwe LP ingesweer met die waarskynlikheid om die nuwe Britse premier te word
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika wil die omvattende ekonomiese vennootskap met China versterk en handel, belegging en langtermyn-samewerking op nywerheidsvlak bevorder. Hy het gister China se Internasionale Voorsieningsketting-ekspo in Beijing toegespreek as deel van sy werksbesoek aan dié land. Mashatile sê Suid-Afrika sien op drie gebiede goeie geleenthede vir samewerking: landbou- en voedselstelsels; noodsaaklike minerale en die groen ekonomie; en gevorderde vervaardiging, logistiek en motorvoertuig-waardekettings:
# Die ampsklagkomitee se voorsitter, Makashule Gana, het gister amptelik ‘n beëdigde verklaring by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om president Cyril Ramaphosa se dringende aansoek om te keer dat die komitee met sy werk voortgaan, teen te staan. Die president soek ʼn interdik hangende die hersiening van die onafhanklike paneel se verslag oor sy optrede nadat duisende Amerikaanse dollars in 2020 op sy plaas, Phala Phala, gesteel is. Gana sê die komitee se werk sal nie belemmer word nie:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het die hantering van ‘n beplande lasbrief vir die Misdaadintelligensie-baas, Dumisani Khumalo, en die hoof van Intelligensie-analise, Nozipho Madondo, gekritiseer en die proses beskryf as deurmekaar en swak gekommunikeer. Die lasbrief is later deur die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie opgeskort. Cachalia het die media ná ‘n veiligheidsbeplanningsvergadering toegespreek en gesê die situasie is kommerwekkend gegewe die senioriteit van die betrokke persone:
# Die Stad Johannesburg het ‘n 100-dae veldtog teen geslagsgeweld en vrouemoord by die Riverlea-ontspanningsentrum begin as deel van pogings om bewustheid en ondersteuning vir oorlewendes te versterk. Die inisiatief bring polisie, gemeenskapspolisiëringsforums, maatskaplike werkers, nooddienste en gemeenskapsorganisasies bymekaar om rapportering, opvoeding en bewustheid te verbeter. Die stad sê hy sal voortgaan om optredes regoor sy streke uit te oefen om gemeenskappe te bemagtig en oorlewendes te ondersteun.
# Groter-Manchester se voormalige burgemeester, Andy Burnham, wat Keir Starmer moontlik kan opvolg as leier van die Arbeidersparty en die Britse eerste minister, is gister as parlementslid beëdig. Starmer het minder as twee jaar na ʼn geskiedkundige verkiesingsoorwinning bedank, maar sal aanbly tot sy opvolger gereed is. Burnham het bevestig dat hy Starmer kan vervang, met ondersteuning van die voormalige minister van Gesondheid, Wes Streeting. Hy sê politieke verandering moet nooit aandag wegneem van die verantwoordelikheid om mense se lewens te verbeter nie.
# Tennis: Die 2023 Wimbledon vroue-enkelspelkampioen, Marketa Vondrousova, is vir vier jaar geskors nadat sy geweier het om ʼn opkikkertoets te doen. Die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap het die 26-jarige Tsjeg aangekla nadat sy op 3 Desember verlede jaar geweier het om ʼn monster te voorsien toe ʼn opkikker-beheerbeampte een gevra het. Volgens Vondrousova het sy geestespanning en vrees ervaar toe die toets-agent laatnag haar deurklokkie sonder behoorlike identifikasie lui. ʼn Onafhanklike tribunaal het bevind sy het geen aanvaarbare regverdiging verskaf om die toets te weier nie. Sy is tot 21 Junie 2030 geskors.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-893-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-151-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….