Nuus 07:00
BULLETIN 18 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika en Rwanda het ooreengekom om verhoudings te herstel
# Georganiseerde arbeid sê migrante moet nie die skuld kry vir Suid-Afrika se ekonomiese krisis nie
# En krieket: Die Protea-vroue het Pakistan in die T20-Wêreldbeker geklop
# Suid-Afrika en Rwanda het ooreengekom om betrekkinge te hersien en ‘n dekade lange gespanne diplomatieke verhouding te herstel. Dit volg na gister se bilaterale hoëvlak-samesprekings tussen die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, en Rwanda se minister van Buitelandse Sake en Internasionale Samewerking, Olivier Nduhungirehe, in Pretoria. Die verhouding tussen die twee lande het sedert 2014 versuur toe streng reisbeperkings op Rwandese ingestel is te midde van toenemende politieke spanning. Lamola sê baie dinge verbind die twee nasies:
# Georganiseerde arbeid sê migrante moet nie blameer word vir Suid-Afrika se ekonomiese probleme nie. Die sektor glo werkloosheid en armoede word veroorsaak deur ekonomiese mislukkings, korrupsie en swak regering. Vakbondfederasies waarsku toenemende anti-migrantesentiment verdeel werkers en mag nie tot geweld of vergeldingsaanvalle lei nie. Die algemene sekretaris van die vakbondfederasie Saftu, Zwelinzima Vavi, het die beplande protes op 30 Junie teen ongedokumenteerde immigrante verwerp en werkers aangespoor om vir diens aan te meld:
# Build One South Africa se onderleier, Nobuntu Hlazo-Webster, is aangewys as die party se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg in aanloop tot die munisipale verkiesing in November. BOSA sê sy sal die party se veldtog lei om aan Johannesburgse inwoners beginselvaste en bevoegde leierskap te bied wat daarop fokus om ʼn metro te bou wat werk. Hlazo-Webster sê sy maak ses beloftes aan inwoners wat die volgende insluit: ʼn vaardige stadsbestuur, ekonomiese groei deur township-ondernemings en ʼn veilige Johannesburg.
# Die Wes-Kaapse regering het meer as 15-miljoen-rand belê in ondersteuningsingrypings vir die Knysna Munisipaliteit, wat daarop gemik is om dienslewering te verbeter. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê die befondsing word gebruik om sleuteldienste, insluitend watervoorsiening, afvalbestuur en padinfrastruktuur, te versterk. Volgens Bredell het uitdagings in munisipale leierskap en administrasie die algehele verbeterings vertraag. Hy het bygevoeg die watervoorsiening is tans bestendig, terwyl werk voortduur om infrastruktuurprobleme op te los en diensleweringsagterstande aan te spreek.
# Die man wat skuldig gepleit het op die sogenaamde Gilgo Beach-moorde, is tot lewenslange tronkstraf sonder die moontlikheid van parool gevonnis. Die 62-jarige Rex Heuermann het erken dat hy oor byna twee dekades agt vroue op New York se Long Island vermoor het. Baie van die slagoffers se ledemate is verwyder en hulle is in afgeleë velde en vleie langs Ocean Parkway naby Gilgo Beach op Long Island se suidelike kus gelaat. Regter Timothy Mazzei het Heuermann ʼn lafaard genoem:
# Krieket: Suid-Afrika het Pakistan met twee paaltjies verslaan om hul eerste oorwinning in die T20-Wêreldbeker vir vroue in Edgbaston, Engeland, te behaal. Kaptein Fatima Sana het ʼn onoorwonne 55 bygedra tot Pakistan se 126 vir nege in hul 20 boulbeurte. Marizanne Kapp het drie paaltjies platgetrek. Daarna het die veelsydige Annerie Dercksen 52 van 35 balle gemoker terwyl Nadine de Klerk se 37 die Proteas tot oorwinning gelei het met drie boulbeurte oor. Suid-Afrika het herstel na hul nederlaag teen Australië in die openingswedstryd, en is nou derde in Groep A.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-506-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-323-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….