Nuus 07:00
BULLETIN 17 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier doen ‘n beroep op jongmense om te registreer om te stem
# Die Landbank sê jeugdeelname is noodsaaklik vir die toekoms van landbou
# En rugby: Vyf nuwelinge is ingesluit in die Springbok-groep vir die Barbarians-kragmeting
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, doen ‘n beroep op alle jongmense om te registreer en ʼn Suid-Afrika te bou wat vir almal werk. Hy het gister die party se Rock the Registration Jeugdag-saamtrek in Durban, KwaZulu-Natal, toegespreek. Die Verkiesingskommissie bied die naweek geleentheid om as kiesers te registreer as voorbereiding vir die munisipale verkiesing in November. Hill-Lewis sê jongmense het voorheen die land van koers laat verander en daardie gees is vandag weer nodig:
Intussen het die EFF-leier Julius Malema die regering van nasionale eenheid gekritiseer en gesê hy spreek nie werkloosheid onder die jeug aan nie. Hy het gister ondersteuners toegespreek by die party se Jeugdag-saamtrek by die Uniegebou in Pretoria. Malema voer aan regeringsbronne moet gebruik word om seker te maak elke kind het sonder finansiële struikelblokke toegang tot onderwys. Hy het herhaal dat die EFF voorstanders is van gratis onderwys:
# Die Landbank vra vir hernude fokus op die verwydering van hindernisse wat jong Suid-Afrikaners keer om betekenisvol aan die landbousektor deel te neem. Die land se amptelike werkloosheidsyfer vir jongmense tussen 15 en 34 jaar oud is tans bo 45-persent. Die waarnemende bestuurshoof van die Landbank, Jabu Mphambo, sê jongmense betree die boerderybedryf teen baie laer koerse as wat nodig is om die toekoms van nasionale voedselproduksie en landelike ontwikkeling te verseker. Hy sê die sektor kan nie floreer sonder die energie, innovering en ambisie van jongmense nie.
# Die TV-aanbieder en rapper Molemo “Jub Jub” Maarohanye is op borgtog van vyf-duisend-rand vrygelaat nadat die Gautengse Hooggeregshof gister ʼn dringende aansoek toegestaan het. Die 45-jarige man is die naweek gearresteer nadat hy na bewering skote afgevuur en ʼn e-taxibestuurder in Edenvale aan die Oos-Rand ontvoer en beskuldig het van ʼn verhouding met sy vriendin. Maarohanye staar aanklagte van ontvoering, onwettige afvuur van ʼn vuurwapen en regsverydeling in die gesig. Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy sal vandag in die Germiston-landdroshof verskyn.
# Die Verenigde Nasies sê daar is ’n dringende behoefte om ‘n hulpkorridor te open om deur die geblokkeerde Straat van Hormoes te beweeg en ‘n wêreldwye hongerkrisis te voorkom. Dit volg nadat die VSA en Iran ooreengekom het om die Straat, wat ongeveer 20-persent van die wêreld se olie en vloeibare aardgas vervoer, te heropen. Die VN se hoof van menseregte, Volker Türk, sê die afgelope maande het getoon dat die geskille in die Midde-Ooste nie deur militêre optrede opgelos kan word nie:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het vyf nuwelinge ingesluit in die groep van 23 vir Saterdag se kragmeting teen die Barbarians in Gqeberha. Die Junior Bok-kaptein, Riley Norton, en Carlu Sadie is in die beginspan. Die nuwelinge onder die plaasvervangers is JJ Kotze, Paul de Villiers en Vusi Moyo. Faf de Klerk, wat sedert hul sege oor Georgia in 2025 nog nie weer vir die Bokke uitgedraf het nie, is op die bank. Ervare spelers soos kaptein Siya Kolisi, Cheslin Kolbe en Franco Mostert is ook in die groep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-540-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-341-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….