Nuus 07:00
BULLETIN 13 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa doen aansoek vir ‘n interdik teen die Phala Phala-ampsklagproses
# Paul Mashatile vra die jeug om deel te neem aan die plaaslike regeringsverkiesing
# En, die Ebola-uitbreking versprei na ‘n oorvol kamp vir ontheemdes in Kongo
# President Cyril Ramaphosa het ‘n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Kaapstad ingedien om die Parlement se ampsklagproses rakende die Phala Phala-skandaal van miljoene rand te verhoed. Ramaphosa vra dat die proses opgeskort word terwyl hy die Artikel 89-paneelverslag betwis. Dié verslag het prima facie-bewyse van moontlike grondwetlike oortredings en wangedrag gevind. Die Konstitusionele Hof het vroeër vanjaar beslis dat die Parlement voortgaan met ‘n ondersoek na die ampsklag. Ramaphosa sê onherstelbare skade kan veroorsaak word en ‘n grondwetlike konflik kan ontstaan indien die proses voortgaan.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het jong Suid-Afrikaners gevra om aktief deel te neem aan die komende plaaslike regeringsverkiesing. Mashatile het in sy hooftoespraak tydens die tradisionele en Khoi-San-leiersbyeenkoms in Limpopo gesê die verkiesing bied kiesers ‘n belangrike geleentheid om dienslewering, verantwoordbaarheid en ontwikkeling in hul gemeenskappe te beïnvloed. Hy het tradisionele leiers gevra om jongmense aan te moedig om te registreer en te stem:
# Die Verkiesingskommissie sê intussen hy versterk vennootskappe met gemeenskapstrukture, polisie en wetstoepassingsagentskappe om veilige en geloofwaardige plaaslike owerheidsverkiesing in November te verseker. Die kommissie sê alhoewel verkiesingsveiligheidswerkswinkels voortduur, is daar kommer oor bendegeweld en misdaad in provinsies, insluitend die Wes-Kaap, wat kiesersdeelname kan ontmoedig. Die voorbereidings vir die kiesersregistrasienaweek op 20 en 21 Junie is egter steeds op koers.
# Die Gautengse Verkeerspolisiehoof Samuel Mashaba is streng ondervra by die Madlanga-kommissie omdat hy na bewering versuim het om die polisie van sekere onwettige aktiwiteite in kennis te stel. Dit volg te midde van ondersoeke na die Aeroton-dwelmonderskepping in 2021. Kommissaris Sesi Baloyi het Mashaba se bewering betwis dat hy sulke sake altyd na die SAPD verwys, en het vorige bewyse aangehaal oor lughawebedrywighede, insluitend nagemaakte diesel. Mashaba het geweier om verder kommentaar te lewer toe hy uitgevra is oor beweerde byverdienstes:
# Die VN se agentskap vir vlugtelinge het die eerste Ebola-verwante sterftes in ‘n kamp vir ontheemdes in die ooste van die Kongo bevestig, met hulpwerkers wat waarsku teen die hoë risiko dat die siekte vinnig in oorvol plekke kan versprei. Die agentskap sê in ‘n verslag die twee slagoffers was binnelandse ontheemdes in die Kpangba-kamp met 30-duisend mense. Die virus het nou oor drie provinsies versprei sedert die Wêreldgesondheidsorganisasie die uitbreking op die 17de van verlede maand tot ‘n openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale belang verklaar het.
# En ten slotte motorsport: Die huidige wêreldkampioen, Lando Norris, het die tweede oefenronde van die Barcelona Grand Prix op die Catalunya-renbaan gewen en het slegs 0,009 sekondes voor die Mercedes van sy landgenoot, George Russell, oor die wenstreep gejaag. Norris se spanmaat Oscar Piastri, was derde. Die Italiaanse tienersensasie Kimi Antonelli, wat ná vyf agtereenvolgende oorwinnings die kampioenskapsvoorloper is, was vyfde in die ander Mercedes, met Charles Leclerc van Ferrari vierde. Die viermalige wêreldkampioen Max Verstappen was sesde, en Lewis Hamilton van Ferrari negende. Die tuisgunsteling en Spanje se tweemalige wêreldkampioen, Fernando Alonso, was 21ste met sy Aston Martin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….