Nuus 07:00
BULLETIN 1 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê munisipale skuld is ‘n bedreiging vir Eskom se volhoubaarheid
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê vrouekiesers kan die uitslag van die verkiesing bepaal
# En rugby: Rassie verwag ‘n nog hewiger kragmeting Saterdag
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê munisipale skuld bly een van die grootste uitdagings vir Eskom se finansiële volhoubaarheid. Op 31 Mei vanjaar het munisipale skuld op 111,6-mijard-rand gestaan en teen Junie het dit tot sowat 119-miljard-rand gestyg. Dit volg nadat Eskom vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar ‘n wins na belasting getoon het. Dit is 30,3-miljard-rand, wat meer is as 2025 se herverklaarde 14-miljard-rand. Ramokgopa sê die regering se ingryping by skuldverligting was nooit ʼn permanente oplossing nie:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê vroue-kiesers kan die sleutel wees wat die uitslag van die plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November bepaal. Die jongste peiling toon die ANC het steeds sterker steun onder vroue, met 37-persent wat die party ondersteun in vergelyking met 26-persent vir die DA. Die peiling dui ook daarop dat 82-persent van vroue wil hê die regering moet meer op werkskepping as op maatskaplike toelaes fokus. Hermann Pretorius van die Instituut sê partye wat werk en huishoudelike sekuriteit bied, kan die ANC se steun onder vroue uitdaag.
# Die adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nomusa Dube-Ncube, sê instellings moet meer proaktief reageer op vaardigheidstekorte en veranderende ekonomiese behoeftes, eerder as om op riglyne van die regering te wag. Die departement se 2026/2027 Jaarlikse Prestasieplan is gegrond op ʼn hervormingsmandaat voortspruitend uit president Cyril Ramaphosa se verklaring van ʼn Nasionale Vaardigheidsrewolusie in vanjaar se staatsrede. Dube-Ncube sê die aanleer van ʼn tegniese vaardigheid is nie genoeg as gegradueerdes nie toegang het tot markte, finansies en nywerheidsintegrasie nie.
# Die IVP se burgemeesterskandidaat in eThekwini, Mkhuleko Hlengwa, sê hy is vasbeslote om verandering in die metro te bring. Hy is tans die party se nasionale woordvoerder en minister van Vervoer in die regering van nasionale eenheid. Die IVP staan sterk in KwaZulu-Natal. Die party het ongeveer 600 kandidate meer in die komende verkiesing as in 2021. Hlengwa sê eThekwini het die potensiaal om een van die grootste ekonomieë in Afrika te word:
# President Donald Trump van Amerika het Iran gedreig na Teheran se wraakaanvalle op Amerikaanse militêre teikens in Jordanië en die Verenigde Arabiese Emirate, en sê “ons gaan hulle hard slaan”. Amerikaanse magte het twee Iranse vuurpyllanseerders op die Larak-eiland in die Straat van Hormoes aangeval. Drie mense is in die aanval dood. Trump het ook herhaal dat Iran smeek vir ʼn ooreenkoms met Amerika. Iran se minister van Buitelandse Sake sê vergeldingsaanvalle op basisse in Jordanië en die VAE is wettige verdediging.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus verwag Saterdag op die FNB-stadion in Johannesburg ‘n nog meer intense wedstryd teen die All Blacks. Die reeks is tans gelykop, en hy dink albei lande is nou ten volle op die toetse gerig. Erasmus het besluit om sy voorry te verander met Ox Nché, Malcolm Marx en Wilco Louw wat in die beginspan gebruik word en Gerhard Steenekamp, Deon Fourie en Thomas du Toit wat na die bank skuif. Hy sê dit is omdat die weersomstandighede anders is as verlede week in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-284-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-442-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….