Nuus 07:00
BULLETIN 10 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit kritiseer Suid-Afrika se swak ekonomiese groei
# Donald Trump beloof optrede nadat Iran ‘n Amerikaanse Apache-helikopter afskiet
# En rugby: Verskeie wêreldklas-spelers is ingesluit in die Barbarians-groep vir die kragmeting teen die Springbokke
# Die vakbond Solidariteit sê die jongste bruto binnelandse produksyfers is teleurstellend en dui aan Suid-Afrika se ekonomie groei steeds te stadig en nie genoeg word gedoen om werkloosheid en ekonomiese probleme aan te spreek nie. Die vakbond blameer hoë koste en regeringsbeleide vir beleggings wat teruggehou word en sleutelsektore soos vervaardiging benadeel. Theuns du Buisson van Solidariteit sê voortgesette lae groei benadeel belangrike sektore soos vervaardiging en ontmoedig beleggings:
# AgriSA sê Suid-Afrika se landbousektor het ‘n rekordhandelsurplus van ongeveer 29-miljard-rand in die eerste drie maande van hierdie jaar aangeteken. Die surplus is aangevuur deur sterk uitvoere van tuinbouprodukte soos druiwe, sitrus en wyn. Die uitvoerende hoof, Johann Kotzé, waarsku egter dat uitdagings soos bek-en-klouseer en dalende uitvoere na sommige markte steeds prestasie beperk. Kotzé sê sterker uitvoergroei en beter marktoegang is nodig om momentum te behou.
# Gauteng se polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê ‘n benadering wat die hele regering betrek, is belangrik vir die toekoms van polisiëring in die provinsie. Die provinsie se misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar toon ʼn afname van 5,9-persent in kontakmisdade tussen Januarie en Maart vanjaar. Moorde neem af met 15-persent, verkragtings met 9,9-persent, en poging tot moord met 3,2-persent. Mthombeni sê die polisie fokus daarop om die wet regverdig toe te pas en seker te maak alle mense in Gauteng is aanspreeklik voor die reg:
# President Donald Trump sê Amerika moet noodgedwonge teen Iran optree nadat dié land Maandagaand ʼn Amerikaanse Apache-helikopter oor die Straat van Hormoes afgeskiet het. Die twee soldate in die helikopter het die gebied aan die kus van Oman gepatrolleer toe die voorval plaasvind. Hulle is met ʼn see-hommeltuig gered in die heel eerste operasie van dié aard wat Amerika se weermag uitvoer. Amerika het herhaaldelik Iranse hommeltuie afgeskiet en terreine aangeval wat met die afvuur van missiele verbind word. Iran het gereageer met aanvalle op Amerikaanse basisse.
# Rugby: Skotland se Suid-Afrikaans-gebore Duhan van der Merwe, die Nieu-Seelandse legende TJ Perenara, en Kyle Sinckler van Engeland is in die Barbarians-groep wat die Springbokke volgende Saterdag in Gqeberha takel. Van der Merwe, wat in 53 toetse 35 drieë vir sy aangenome land gedruk het, sal die beroemde trui die eerste keer dra saam met sy Skotse medespelers, D’Arcy Rae en Liam McConnell. Die voormalige All Black-onderkaptein, Perenara, bring ervaring van 89 toetse na die span. Verdere aankondigings oor die span sal mettertyd bekendgemaak word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-741-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-197-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie, NASA, het Artemis Drie se bemanning van vier aangekondig. Hulle sal landingstuie toets vir toekomstige sendings wat op die maan land. Die ruimtevaarders wat volgende jaar ʼn ruimtesending sal onderneem, is bevelvoerder Randy Bresnik, vlieënier Luca Parmitano, en die sending-spesialiste Andre Douglas en Frank Rubio. Dit volg twee maande na Artemis Twee se reis om die maan wat Apollo 13 se afstandsrekord verbeter het. NASA-administrateur Jared Isaacman sê die bemanning sal ook bymekaarkom- en koppel-vermoëns toets:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….