Nuus 07:00
BULLETIN 5 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê daar is onbenutte potensiaal in beide die Suid-Afrikaanse en Keniaanse ekonomieë
# Die DA eis dringende antwoorde oor die toenemende DNS-agterstand
# En die EU keur ‘n bykomende 1,88-miljard-rand goed vir die Libanese weermag
# President Cyril Ramaphosa sê daar is ‘n dringende behoefte aan handel en belegging tussen Afrikalande en beklemtoon dat Suid-Afrika en Kenia aansienlike groei in volume en waarde in handel tussen die twee lande wil hê. Sedert 2022 het die totale handel tussen dié lande jaarliks met 3,5-persent gegroei. Ramaphosa het gister die Suid-Afrika/Kenia-sakeforum in Midrand, Johannesburg, toegespreek en die sakesektor aangemoedig om marktoegang en groter belegging te bevorder:
# Die DA vra vir ‘n nasionale oudit van die DNS-agterstand, asook ‘n volledige omkeerplan om ernstige personeeltekorte, toerustingmislukkings en laboratoriumbeperkings in die forensiese stelsel reg te stel. Dit volg op nuwe bevindinge wat groot vertragings in forensiese toetse ontbloot het. Ian Cameron van die party sê sowat 175-duisend DNS-gevalle het voorgeskrewe tydlyne oorskry, ondersoeke na verkragting en geweldsmisdaad beïnvloed, en vervolgings vertraag:
# Suid-Afrika se vervaardigingsektor het in Mei binne die groeigebied gebly, maar tekens van verlangsaming getoon. Die Absa-aankopebestuurdersindeks het van 53 punte in April tot 51 punte gedaal namate produksie en nuwe bestellings verswak het nadat ‘n tydelike toename in aanvraag afgeneem het. Voorraadvlakke het tot ‘n tweejaar-hoogtepunt gestyg, terwyl kostedruk steeds hoog was ondanks ‘n effense prysdaling. Indiensneming het effens verbeter, maar is steeds swak. Ondernemings is egter meer optimisties oor toestande later in die jaar.
# Die ANC in Ekurhuleni veroordeel die EFF nadat hy saam met die DA en Vryheidsfront Plus gestem het om die 2026/2027-begroting van 71-miljard-rand af te keur. Die begroting kon gister tydens ʼn buitengewone raadsvergadering nie genoeg ondersteuning kry nie, met 96 raadslede wat daarvoor en 105 wat daarteen gestem het. Die ANC sê die partye wat die begroting teenstaan, draai hulle rug op inwoners wat aan die konsultasieproses deelgeneem het en ʼn dringende behoefte aan beter dienslewering uitgespreek het.
# Die Europese Unie het ʼn bykomende pakket van 1,88-miljard-rand goedgekeur om Libanon se gewapende magte te ondersteun. Dit is die vierde bilaterale pakket vir militêre hulp wat dié blok lande die afgelope jare aan Libanon gee. Die befondsing sal gebruik word om Libanon se militêre vermoë uit te brei. Die EU-hoof van Buitelandse Sake, Kaja Kallas, sê die beste manier om die Iran-ondersteunde Hisbolla-groep se bedreiging te verminder, is deur die Libanese staat te versterk, sy instellings te bemagtig en sy monopolie op die gebruik van mag te herstel.
# Tennis: Die wêreld-nommer-114, Maja Chwalinska, se sprokie-veldtog by die Franse Ope duur voort met haar eerste Grand Slam-eindstryd. Die 24-jarige Pool het die 25ste gekeurde Rus, Diana Shnaider, geklop om die tweede kwalifiseerder in die Ope-era te word wat ʼn Grand Slam-eindronde haal, en die eerste by Roland-Garros. Sy kom te staan teen die Russiese tiener, Mirra Andreeva, wat ook deur is na haar eerste Grand Slam-eindstryd nadat sy die Oekraïner, Marta Kostyuk, verslaan het. Die 19-jarige Andreeva is die derde jongste vrou wat hierdie eeu die eindstryd haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-208-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-446-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….