Nuus 07:00
BULLETIN 4 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Omvattende operasionele plan is van stapel gestuur teen teen-immigrasie-onluste
# Die polisie het meer as 34-duisend onwettige immigrante sedert Januarie in hegtenis geneem
# En gholf: McIlroy mik na sy eerste oorwinning by die PGA-toer se Gedenktoernooi
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur het ‘n omvattende operasionele plan geaktiveer ná onluste oor ongedokumenteerde migrante in dele van die land uitgebreek het. Die plan fokus op drie areas: groter sigbaarheid en vermoë om vinnig te ontplooi, intelligensie-gedrewe operasies, en geteikende operasies om misdaad te bekamp. Brandpunte soos die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap word gemonitor. Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê geen omstandighede regverdig moord, vernietiging van eiendom, xenofobiese aanvalle of ander misdadige optrede nie:
Dimpane, sê ook die regering laat nie onwettige immigrasie oogluikend toe nie. Die afgelope drie weke is meer as vyf-duisend onwettige immigrante gearresteer omdat hulle die Immigrasiewet oortree het. Sedert Januarie vanjaar is 34-duisend-798 onwettige immigrante tydens wetstoepassings-operasies reg oor die land vasgetrek. Dimpane sê die polisie bly in beheer van die land se veiligheidsomgewing:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het Telkom se jaarlikse finansiële resultate vir die jaar tot 31 Maart 2026 verwelkom. Malatsi sê die uitslae weerspieël die sukses van die maatskappy se transformasiestrategie en volgehoue groei in die telekommunikasiesektor. Telkom het verbeterde verdienste en sterk kontantvloeiprestasie gerapporteer, wat hom in staat stel om sy dividend-uitbetaling te verhoog. Die minister sê die resultate beklemtoon die belangrikheid van volhoubare belegging in digitale infrastruktuur en ondersteun die regering se doelwit om konnektiwiteit uit te brei en ekonomiese groei te dryf.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke sê meer as 50-miljoen-rand is bestee aan klein ondernemings wat goedere en dienste binne sy verkrygingsekosisteem verskaf. In vennootskap met Sanlam, en die “I am an Entrepreneur”-program , help die rentevrye lenings, ondernemings om bestellings te lewer en kontantvloei te bestuur. Die inisiatief, wat in 2023 as ‘n proefprojek van tien-miljoen-rand begin het, het gehelp om werk te skep, ondernemings te laat groei, en ekonomiese inklusiwiteit te ondersteun. SANParke bly verbind tot die uitbreiding van toegang tot finansiering vir meer klein ondernemings.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê sy vermoë om doeltreffend op te tree teen die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda word deur ʼn oorkoepelende reisverbod belemmer. Amerika, Bahrein, Mexiko en ander lande het reisbeperkings ingestel terwyl Kanada 21 dae kwarantyn vereis vir alle reisigers uit die DRK. Sowat 300 bevestigde Ebola-gevalle en meer as 60 sterftes is aangemeld. Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê hoë vlakke van wantroue in gemeenskappe en lae kontak-opsporing wek kommer.
# Gholf: Die sesmalige major-kampioen, Rory McIlroy, wil sy heel eerste oorwinning behaal by die PGA-toer se Gedenktoernooi wat vandag by Muirfield Village in Dublin, Ohio, begin. Die Noord-Ier se beste prestasie by die toernooi was in 2016 toe hy gelykop vierde was. McIlroy, wat in April agtereenvolgende seges in Meesterstoernooie behaal het, het erken die uitleg by Muirfield Village bevorder nie noodwendig sy spel nie, en sê sy sukses sal afhang van hoe hy sy natuurlike spel kan aanpas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-964-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-460-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….