Nuus 07:00
BULLETIN 3 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die direkteur-generaal van die Nasionale Tesourie sê Suid-Afrika is op koers om sy fiskale teikens te haal
# Die DA sê Suid-Afrika se strafregstelsel misluk op byna elke vlak
# En Israel sê uitvoersyfers weerspieël internasionale vertroue in sy verdedigingstelsel
# Die Nasionale Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, sê Suid-Afrika bly op koers om sy fiskale teikens te haal, ten spyte van ekonomiese onsekerheid weens die konflik in die Midde-Ooste. Die land se skuld-tot-bruto binnelandse produk het in Februarie die eerste keer sedert die tyd voor die wêreldwye finansiële krisis in 2008 gestabiliseer en sal na verwagting teen 2028/2029 tot 76,5-persent afneem. Pieterse sê onlangse beoordelings deur die kredietgraderingsagentskappe, Moody’s en Standard and Poor’s, het vertroue in Suid-Afrika se fiskale trajek versterk. Hy sê die regering kan sy fiskale konsolideringsteikens en verbintenis tot strukturele hervorming haal.
# Die ANC-hoofsweep, Mdumiseni Ntuli, sê hulle verwerp xenofobie, gepeupelreg en die demonisering van Afrika-migrante ten sterkste. Daar was die afgelope weke in dele van die land, veral in KwaZulu-Natal en Gauteng, toenemende betogings teen onwettige immigrante. Ntuli het gister tydens die lewering van die Presidensie se begroting in die Nasionale Vergadering gesê hulle verwerp ook die arrogansie en minagting van sommige buitelanders wat in die land woon:
# Die DA sê die krisis in die land se strafregstelsel is nie net ‘n departementele mislukking nie, dis ʼn regeringsmislukking. Suid-Afrika se moordsyfer het tussen Januarie en Maart met byna tien-persent gedaal. Meer as vyfduisend-100 mense is egter steeds vermoor, wat neerkom op gemiddeld 58 moorde per dag. George Michalakis van die DA het gister in die Nasionale Vergadering gesê daar moet erken word dat geen enkele regeringsfeer hierdie krisis alleen kan oplos nie:
# Adjudant-offisier Karl Sander van die Valke in KwaZulu-Natal het voor die Madlanga-kommissie getuig daar bestaan ‘n kultuur binne die provinsiale Valke-eenheid waar verklikkers geteiken en geviktimiseer word. Sander sê hy is in 2024 verskuif na kantoordiens nadat onbewese korrupsiebewerings teen hom na vore gekom het. Hy het gevra waarom ‘n ander Valke-offisier wat van afpersing aangekla word, in ‘n sensitiewe pos aangebly het, terwyl hy op borgtog was. Sander het verder beweer ‘n verklikker wat kommer uitgespreek het, is vinnig geviktimiseer:
# Israel se minister van Verdediging, Israel Katz, sê die land se groeiende uitvoersyfers versterk sy posisie as ʼn leier in verdediging-tegnologie. Israel se verdediging-uitvoere het ʼn 2025 ʼn rekord bedrag van 314-miljard-rand beloop. Dit is die vyfde jaar van groei, het binne vyf jaar meer as verdubbel en in ʼn dekade meer as vier keer toegeneem. Die groei word hoofsaaklik aangedryf deur missiel-, vuurpyl- en lugafweerstelsels. Katz sê omdat Israel sedert Oktober 2023 op talle fronte in oorlog gedompel is, het hy geleentheid om die wêreld te wys dat sy stelsels doeltreffend is in oorlogvoering.
# Krieket: Sommige spanne sal die pienk bal in dagtoetse gebruik nadat die Internasionale Krieketraad se uitvoerende raad die toets van die idee goedgekeur het. Die bal word voorgestel om verlore tyd as gevolg van swak lig te verminder. Pienk balle word reeds in dag-nag-toetse gebruik, terwyl rooi balle nie maklik in dowwe lig sigbaar is nie. Wit balle, wat in T20’s en eendagwedstryde gebruik word, is nie duursaam genoeg vir die langste formaat nie. Die IKR het ook navorsing oor beligtingstegnologie vir wedstrydbeamptes en krieketvelde goedgekeur om verlore spel as gevolg van swak lig te verminder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-527-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-478-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 96-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….