Nuus 07:00
BULLETIN 31 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP is gereed vir die verkiesing met meer as vier-duisend kandidate
# Funza Lushaka-beursbetalings is aan ses universiteite gedoen
#En Suid-Afrikaanse rugby treur oor die dood van die Springbok-legende Joggie Jansen
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty sê hy is gereed om aan die komende plaaslikeregeringsverkiesing in November deel te neem. Hy het sy kandidatelys met vier-duisend-418 name vir wyksraadslede by die Suid-Afrikaanse Verkiesingskommissie ingedien, en sal ook meeding vir proposionele verteenwoordiging. Die SAKP se hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê hulle kandidatelys is die produk van ‘n lang onderhandelingsproses met gemeenskappe wat ook in sy manifes neerslag vind:
Die party het die versekering gegee dat hy nie wegstap van die Drieparty-alliansie nie, maar deel daarvan bly terwyl hy homself hersaamstel. Die SAKP gaan die eerste keer onafhanklik van sy groter alliansievennoot, die ANC, aan ʼn verkiesing deelneem. Mapaila sê hulle onafhanklike deelname is deel van die stryd om politieke verteenwoordiging vir die werkersklas te herbou en die alliansie se hersamestelling te verseker:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het meer as 222-miljoen-rand aan ses universiteite betaal vir die Funza Lushaka-onderwysbeursprogram. Die betaling dek byna drieduisend studente wie se toelaes vertraag is. Die universiteite is nou verantwoordelik vir die oordrag van die geld aan studente. Nog 296-miljoen-rand is vir verwerking in September oorbetaal. Meer as ‘n halfmiljard-rand in bykomende fondse is steeds onopgeëis omdat universiteite nog hul eise moet indien. Hulle het tot 13 September om uitstaande eise vir die Oktober-betaling in te dien. Funza Lushaka ondersteun studente wat onderwys studeer.
# Die Valke het ‘n 37-jarige verdagte in hegtenis geneem wat verbind word met die Tembisa-hospitaalkorrupsiesaak van 635-miljoen-rand. Hy is by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kemptonpark, Ekurhuleni, in hegtenis geneem met sy terugkeer uit die buiteland. Valke-woordvoerder, Katlego Mogale, sê die verdagte is deel van die ingewikkelde ondersoek na die multimiljoenrand-tenderbedrogsaak. Sy sê die bewerings hou verband met verskeie oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur:
# Ysland het teen ʼn referendum gestem om voort te gaan met onderhandelings om by die Europese Unie aan te sluit. Altesaam 52,8-persent van meer as 225-duisend mense het die regering se voorstel verwerp, terwyl 47,2-persent ten gunste daarvan was. Die stempersentasie was 82,5-persent. Baie kiesers glo EU-lidmaatskap sal die eiland se soewereiniteit en viswaters bedreig. Diegene wat die referendum ondersteun, reken lidmaatskap sal Ysland groter sekerheid bied te midde van die oorloë in Oekraïne en die Midde-Ooste, en wat president Donald Trump se onvoorspelbare houding teenoor Groenland betref.
# Rugby: Die voormalige Springbok-senter, Joggie Jansen, is Sondagoggend op 78-jarige leeftyd oorlede. Hy het op 25 Julie 1970 sy toetsdebuut teen Nieu-Seeland op Loftus Versfeld in Pretoria gemaak. Tussen 1970 en 1972 het hy in tien toetse vir Suid-Afrika uitgedraf en een drie gedruk. Jansen het provinsiaal vir die Vrystaat gespeel en was deel van hul span wat in 1976 die Curriebeker gewen het. SA Rugby se president, Mark Alexander, sê Jansen was ʼn uitstekende rugbyspeler wat sy land met toewyding en moed verteenwoordig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-791-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-430-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….