Nuus 07:00
BULLETIN 29 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering vra vir sterker wetgewing en toesig
# BOSA waarsku die verhoging van die repokoers gaan die lewenskostekrisis vererger
# En tennis: Sinner is uitgeskakel in ‘n skokkende tweede ronde-nederlaag op Roland-Garros
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê die Parlement bly verbind tot die versterking van oorsig, verbetering van dienslewering en ‘n doeltreffende, aanspreeklike en mens-gesentreerde wetgewer. Die Parlement se totale begroting vir die 2026/2027-boekjaar beloop 6,3-miljard-rand, wat bestaan uit ʼn toewysing van 3,3-miljard-rand van die Nasionale Tesourie, plus die herboufonds en sy eie inkomste-strome. Didiza sê die Parlement moet deeglik wees met wetgewende prosesse:
# Build One South Africa sê die rentekoersverhoging van sewe persent sal die lewe moeiliker maak vir huishoudings en besighede wat reeds onder finansiële druk is. Die party voer aan die verhoging van 25 basispunte sal skuldterugbetalings verhoog terwyl baie mense reeds sukkel om deur die maand te kom. Roger Solomons van BOSA sê die regering moet dringend fokus op ekonomiese hervormings om groei te bevorder, werk te skep en lewenskoste te verlaag, aangesien hoër rentekoerse alleen nie die land se ekonomiese uitdagings sal oplos nie.
# Die MK-party sê hy ondersoek die volledige omstandighede rondom bewerings en gevolglike aanklagte teen sy hoofsweep, Mmabatho Mokoena Zondi. Sy het gister in die Kaapstadse Landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en is op borgtog van 30-duisend-rand vrygelaat. Mokoena-Zondi het na bewering vier mense as navorsers vir die party gewerf. Sy het glo betaling van hulle geëis onder voorwendsel dat die geld nodig is vir die party-president, Jacob Zuma, se regskoste. Die MK-party sê regs- en interne organisatoriese prosesse moet regverdig en deursigtig verloop.
# Die Stad Kaapstad sê ʼn positiewe vooruitsig-aanpassing van Moody’s Ratings is ʼn teken van vertroue in sy regering, finansiële bestuur en dienslewering. Die graderingsagentskap het die stad se vooruitsig van stabiel na positief aangepas danksy goeie finansiële prestasie, hoë inkomste-invordering, lae skuldvlakke en gesonde finansiële beplanning. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Siseko Mbandezi, sê die opgradering sal die stad help met toegang tot befondsing teen beter rentekoerse vir sy infrastruktuurprogram van 40-miljard-rand.
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê sy land is nie meer net ʼn streeksmag nie, maar ʼn wêreldmag. Hy het by ʼn konferensie in die Wesoewer gepraat. Netanyahu sê Israel beheer tans 60-persent van die Gaza-strook, maar hy het sy militêre magte opdrag gee om uit te brei en 70-persent van die gebied in te neem. Die oorname van ʼn groter deel van Gaza sal sowat twee-miljoen Palestyne in ʼn krimpende deel van die kusgebied se terrein indwing. Netanyahu sê Israel was nog nooit sterker as nou nie.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is in die tweede rondte van die Franse Ope uitgeskakel nadat hy in snikhete toestande fisies gesukkel het. Die Italianer was in die derde stel met 5-1 een pot weg van ʼn oorwinning toe hy duiselig word en krampe kry, en ʼn mediese blaaskans moes neem. Sinner het die derde stel verloor en kon nie weer op dreef kom nie. Die wêreld se nommer 56, Manuel Cerundolo van Argentinië, het hom met 3-6, 2-6, 7-5, 6-1, 6-1 geklop. Sinner sê hy het baie min energie gehad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-444-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-502-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….