Nuus 07:00
BULLETIN 27 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube stel ‘n onafhanklike ondersoek in na die handboek-polemiek
# Iran waarsku die jongste Amerikaanse aanvalle sal nie onbeantwoord bly nie
# En rugby: Naas Botha kry ‘n afrigterspos in die VSA
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê die departement sal ‘n onafhanklike, eksterne, forensiese ondersoek instel na die nasionale katalogus-proses vir die grondslagfase. Dit volg na ʼn News24-verslag dat Lighthouse Publishers, wat geregistreer is slegs drie dae nadat die opdrag vir die grondslagfase se nasionale katalogus gegee is, die meeste goedkeurings ontvang het om nuwe leer- en onderrigmateriaal vir graad 1 tot 3 uit te gee. Gwarube sê die ondersoek is om seker te maak leerders ontvang betyds gehalte-handboeke deur ʼn wettige, regverdige en deursigtige proses.
# Die GOOD-party sê immigrante en vlugtelinge is nie verantwoordelik nie vir Suid-Afrika se sosiale en ekonomiese probleme wat armoede en werkloosheid insluit. Die party waarsku dit is gevaarlik om buitelandse burgers te blameer en kan xenofobiese geweld aanwakker, soortgelyk aan vorige aanvalle in 2008. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron sê die werklike oorsake lê in regeringsbeleidmislukkings, misdaad, korrupsie en stadige ekonomiese groei:
# Die Nasionale Raad van Provinsies het die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste aanvaar. Hierdie wetgewing bepaal hoe inkomste wat nasionaal ingevorder word vir die 2026/2027-boekjaar onder nasionale, provinsiale en plaaslike regering verdeel word. Die wetsontwerp is verlede maand in die Nasionale Vergadering aanvaar en na die Nasionale Raad van Provinsies se Gekose Komitee oor Bewilligings verwys vir oorweging. Die komitee sê provinsiale toekennings beloop 670,3-miljard-rand, terwyl plaaslike regerings altesaam 110,1-miljard-rand sal ontvang. Die wetsontwerp word nou na president Cyril Ramaphosa gestuur om bekragtig te word.
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê daar is ʼn uitvoerige omkeerplan om voortslepende probleme by die Charlotte Maxeke-hospitaal aan te spreek. ʼn Brand het in April 2021 by die hospitaal uitgebreek en belangrike dele van die hoofgebou se struktuur en veelvlakkige parkeergebied vernietig. ʼn Ondersoek deur die Openbare Beskermer het bevind sistemiese mislukkings, wanadministrasie en onderbesteding van die begroting veroorsaak dat herstelwerk vertraag word. Motsoaledi sê ʼn komitee is aangewys om seker te maak herstelwerk word uitgevoer:
# Iran dreig om wraak te neem na wat hy Amerika se blatante skending van die skietstilstand noem. Amerika het Maandag “selfverdedigingsaanvalle” in die suide van Iran uitgevoer op bote wat seemyne probeer lê, en missielafvuur-terreine in die Hormozgan-streek wat ʼn kusgebied in die Straat van Hormoes het. Iran se ministerie van Buitelandse Sake sê hy sal geen daad van aggressie onbeantwoord laat nie en nie huiwer om die land se soewereiniteit te verdedig nie.
# Rugby: Die Springbok-losskakel van weleer, Naas Botha, is aangestel as direkteur van rugby by die Amerikaanse Afdeling Een-klub Kansas City Blues. Die 67-jarige het 179 wedstryde vir die destydse Noord-Transvaal gespeel en twee-duisend-511 punte aangeteken. Hy het ook 312 punte vir die Bokke in 28 toetse tussen 1980 en 1992 bygedra. Botha het ná sy speeldae ‘n televisiekommentator geword. Hy en sy gesin het in Maart na Amerika verhuis. Kansas City sê hy sal help met spelersontwikkeling en die verbetering van loopbane vir atlete om op nasionale vlak mee te ding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-748-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-512-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….