Nuus 07:00
BULLETIN 25 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa se regspan dien vandag hofdokumente in oor die Artikel 89-paneelverslag
# Thabo Mbeki hoop dat ambassadeur Roelf Meyer daarin kan slaag om die SA-VSA-verhouding te herstel
# En krieket: Die Rajasthan Royals verseker die finale IPL-uitspeelplek
# President Cyril Ramaphosa se regspan gaan volgens berigte vandag by die Hooggeregshof in Kaapstad aansoek doen om die Artikel 89-paneel se verslag te laat hersien. Die Konstitusionele Hof het bevind dat die Nasionale Vergadering onwettig opgetree het deur teen die verslag se aanvaarding te stem. Volgens die verslag moet Ramaphosa wel verslag doen oor sy hantering van die inbraak in 2020 op sy plaas, Phala Phala. Ramaphosa hou vol die verslag kan op verskeie gronde hersien word, insluitend growwe regsfoute en ongegronde feitelike gevolgtrekkings.
# Oudpresident Thabo Mbeki sê hy hoop Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Roelf Meyer, sal die verhouding tussen Pretoria en Washington kan herstel. Meyer is Donderdag amptelik in die Withuis geakkrediteer. Hy sluit in Amerika aan by die beroepsdiplomaat, Thabo Thage, om Suid-Afrika se ambassade te hervestig. Mbeki het aan die SABC gesê hy het met Meyer vergader en hulle het die probleme tussen die twee lande bespreek:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum verwerp enige poging deur die Parlement se Artikel 22-komitee om regulatoriese raamwerke, lisensies of staatsgesteunde toesig op kerke af te dwing. Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe het die Parlementêre Artikel 22-komitee gestig vir nasionale raadpleging om ‘n selfregulerende raamwerk, etiese kode en praktykraad op te stel om misbruik en skadelike praktyke in die godsdienssektor te bekamp. Die forum se leier, Marothi Mashashane, sê die regering en die kommissie wil die geloofsektor beheer:
# Die DA in Johannesburg het ‘n strafregtelike saak teen die Stad se burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling en -beplanning, Thapelo Amad, aanhangig gemaak vir die afvuur van ‘n vuurwapen in die openbaar. Die DA-lid, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê hulle het onlangs inligting van ‘n betroubare bron ontvang dat Amad glo nalatig skote in die lug afgevuur het in Lufhereng, Soweto. Dit was tydens die begrafnis van wyle Nomthandazo Gladys Dladla:
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu sê hy en president Donald Trump van Amerika het ooreengekom dat enige finale ooreenkoms met Iran die kerngevaar moet uitskakel. Die twee leiers het die naweek oor die foon beraadslaag. Amerika en Iran sê pogings om die oorlog te beëindig, vorder. Netanyahu sê dis ‘n prioriteit om Iran se kernverryking-persele af te takel en verrykte kernmateriaal uit sy gebied te verwyder. Hy sê Trump het ook Israel se reg bevestig om homself op alle fronte, insluitend Libanon, te verdedig.
# Krieket: Die Rajasthan Royals het die vierde en laaste plek in die Indiese Premierliga se uitspeelronde beklink nadat hulle die voormalige kampioene, die Mumbai Indians, met 30 lopies verslaan het. Die Royals het eerste gekolf en 205 vir agt op die telbord geplaas. Daarna is Mumbai tot 175 vir nege beperk ten spyte van Suryakumar Yadav se skitterende 60 van 42 balle. Jofra Archer was die ster onder die boulers en het drie paaltjies platgetrek. Rajasthan Royals sluit aan by Royal Challengers Bengaluru, Gujarat Titans en Sunrisers Hyderabad in die uitspeelronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-73-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-574-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 96-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….