Nuus 07:00
BULLETIN 22 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die proses vir die ampsklagkomitee word in detail uiteengesit
# Solidariteit vra die regering om ‘n Amerikaanse olyftak te aanvaar
# En Air France en Airbus word skuldig bevind aan korporatiewe manslag
# Die parlementêre subkomitee vir die Hersiening van Vergaderingreëls se regspan sê ‘n paar prosesse moet plaasvind voor die ampsklagkomitee se 31 lede kan begin werk. Die subkomitee sal die operasionele pad vir die komitee uitstippel. Die Konstitusionele Hof het bevind die Parlement het ongrondwetlik opgetree toe hy teen ʼn ampsklag-ondersoek en ʼn paneel-verslag gestem het, wat bevind het Ramaphosa het moontlik die Grondwet oortree. Die subkomitee se regsadviseur, Andrew Breitenbach, sê die ampsklagkomitee moet ʼn paar dinge in ag neem:
# Solidariteit sê met Amerika se verlenging van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika moet die regering die spreekwoordelike olyftak van Washington aangryp. President Donald Trump van Amerika het ʼn proklamasie uitgevaardig dat die belastingvrye toegewing onder die AGOA-ooreenkoms aan lande suid van die Sahara, tot 31 Desember vanjaar verleng word. Solidariteit sê die regering moet seker maak sy verhouding met een van sy belangrikste handelsvennote word nie verswak deur onnodige beleidsbesluite of diplomatieke spanning nie. Hy sê AGOA bied aansienlike voordele vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.
# Die DA doen ‘n beroep op verbeterde lewensomstandighede en beter welsynsondersteuning vir lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat by die militêre basis Fort Ikapa in Goodwood, Kaapstad, ontplooi is as deel van Operasie Prosper. Volgens die party word soldate onder swak omstandighede gehuisves, onder meer in ‘n lekkende vliegtuigskuur tydens erge weer, ten spyte van beloftes van behoorlike sorg en fasiliteite. Nicholas Gotsell van die DA sê soldate verdien waardigheid en behoorlike ondersteuning terwyl hulle in diens is:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê eise van verbeterde prestasie en gesondheidsorg in Johannesburg weerspieël nie die ekonomiese realiteit waarmee inwoners te kampe het nie. Volgens die organisasie het burgemeester Dada Morero se stadsrede groot uitdagings erken, insluitend ‘n beduidende infrastruktuuragterstand, nutsverliese en voortdurende finansiële druk. Julius Kleynhans van OUTA sê inwoners ervaar steeds wateronderbrekings, vullisverwyderingsprobleme en swak basiese dienste, wat amptelike aansprake van vordering weerspreek:
# ʼn Appèlhof in Parys het die Franse lugredery en Airbus skuldig bevind aan korporatiewe manslag na die voorval in 2009 waarin Vlug AF447 neergestort en al 228 mense aan boord dood is. Die passasierstraler was op pad van Rio de Janeiro na Parys toe dit tydens ʼn storm in die Atlantiese Oseaan neergestort het. Die 216 passasiers en 12 bemanningslede is dood. Hierdie beslissing hef die 2023-onskuldigbevinding van Air France en Airbus op. Die hof het bevind die maatskappye moet die maksimum boete vir korporatiewe manslag betaal, wat sowat vier-miljoen-300-rand elk is.
# Tennis: Die topgekeurde Jannik Sinner kom in die eerste rondte van die Franse Ope teen die Franse promotorskeuse, Clement Tabur, te staan. Moontlike teenstanders op die Italianer se pad sluit die Amerikaner Ben Shelton en Daniil Medvedev van Rusland in. In die ander helfte begin die driemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, sy poging vir ʼn 25ste major teen die Fransman, Giovanni Mpetshi Perricard. Djokovic is in dieselfde groep as die Noorweër, Casper Ruud, en Duitser Alexander Zverev. Gael Monfils van Frankryk wat meeding in sy laaste seisoen op toer, takel sy landgenoot, Hugo Gaston.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-594-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-524-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….