Nuus 07:00
BULLETIN 19 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Faizel Moosa word deur Israelse magte op die Global Sumud Flotilla aangehou
# President Ramaphosa sê hulle werk aan die gaping tussen beleggingsbeloftes en implementering
# En meer as 100 sterftes word gekoppel aan die Ebola-uitbreking in die DRK
# Die Suid-Afrikaner Faizel Moosa is een van sowat 100 aktiviste wat volgens berigte deur Israelse magte aangehou word. Dit volg nadat Israelse magte gister ‘n flottielje van meer as 50 bote wat hulp na Gaza neem, in internasionale waters wes van Sipres onderskep het. Moosa was aan boord van die Global Sumud Flotilla. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het die sending veroordeel en beskryf dit as ʼn kwaadwillige manier om Hamas te ondersteun. Moosa het ʼn video opgeneem voor hy aangekeer is en beweer hy is onwettig ontvoer:
# President Cyril Ramaphosa sê daar is ʼn gaping tussen beter belegger-sentiment en groter belegging. Suid-Afrika se Bruto Vastekapitaal-skepping het sedert 2008 geleidelik afgeneem. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief dit word toegeskryf aan die wêreldwye finansiële krisis en die tydperk van staatskaping wat privaat belegging en sakevertroue ondermyn het. Ramaphosa sê die regering wil die gaping verklein tussen beloftes van beleggings, die instelling daarvan en uiteindelik werkskepping.
# Die Verkiesingskommissie het kommer uitgespreek oor onakkurate stellings oor die integriteit van die 2024 nasionale en provinsiale verkiesings. Dit volg na opmerkings deur EFF-leier Julius Malema, wat op ‘n aanlyn uitsending beweer het stemme by die Mponegele Laerskool in Polokwane, Limpopo, is van die EFF na die ANC geskuif. Die kommissie sê die bewering is verkeerd en daar is geen bewyse dat stemme gemanipuleer nie. Hy sê amptelike uitslagstrokies stem ooreen met die syfers wat op sy uitslagstelsel vasgelê is.
# Die Gauteng Dobbelraad se uitvoerende hoof, Karabo Mbele, is met onmiddellike ingang afgedank weens bestuursmislukkings en growwe wangedrag. Dit volg na ʼn forensiese ondersoek na die instelling se bedrywighede. Gauteng se LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Vuyiswa Ramakgopa, het ook die dobbelraad se hoof finansiële beampte, Oscar Maripane, geskors na onthullings van onregmatige verkrygings en mislukte finansiële bestuur. Ramakgopa sê die besluit is nie oorhaastig of weens politieke redes geneem nie:
# Die Afrika-sentrum vir siektebeheer en -voorkoming sê meer as 100 sterftes in die Demokratiese Republiek die Kongo word tans met die Ebola-uitbreking verbind. Meer as 390 moontlike gevalle is aangemeld. Daar is ook twee bevestigde gevalle en een sterfte in Uganda aangeteken. In die DRK is minstens ses Amerikaners aan die Ebola-virus blootgestel. Die Wêreldgesondheidsorganisasie se streekdirekteur vir Afrika, Mohamed Yakub Janabi, sê al is die uitbreking ʼn internasionale noodsituasie, is daar geen rede vir paniek nie:
# Krieket: Australië se krieketbeheerliggaam is nie bekommerd om weens privaat belegging van Indiese Premierliga-franchise-eienaars die beheer prys te gee van die winsgewende Big Bash League nie. Krieket Australië se privatiseringsplanne vir die BBL het vasgeval nadat die raad nie konsensus met staatslede kon bereik nie. Van die kommer spruit uit IPL-eienaars se groeiende wêreldwye voetspoor, met belange in T20-kompetisies in Suid-Afrika, Engeland, die Wes-Indiese Eilande en die Verenigde Arabiese Emirate. Die uitvoerende hoof van Krieket Australië, Todd Greenberg, sê hulle sal nie die spel aan Indië verkoop nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-982-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-562-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….