Nuus 07:00
BULLETIN 15 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom Sisisi Tolashe se afdanking en sê haar posisie in die Kabinet was onverdedigbaar
# Solidariteit stel ‘n rasvrye Suid-Afrika teen 2030 voor
# En rugby, die Leeus fokus slegs op Munster vir die naweek se wedstryde
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa het die regte ding gedoen om die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, af te dank omdat haar posisie in die Kabinet onverdedigbaar was. Sy het versuim om twee luukse Chinese voertuie te verklaar wat laat in 2023 aan die ANC-vroueliga geskenk is. Tolashe word ook beskuldig dat sy die onregmatige aanstelling van haar personeelhoof en gewese direkteur-generaal toegelaat het, en personeel wat deur die staat betaal word, misbruik het. DA-leier Geordin Hill-Lewis sê Suid-Afrikaners verdien ‘n bevoegde en geloofwaardige minister:
Intussen verwelkom ActionSA die afdanking van die minister maar voeg by sy moet nou met die volle mag van die reg te doen kry. ActionSA sê Tolashe moet geen bonus by aftrede ontvang nie en sê sy verlaat die amp in skande. Die party eis ook dat aftrekkings van haar staatspensioen gemaak word.
# Die vakbond Solidariteit het ‘n nuwe padkaart bekendgestel wat teen 2030 ‘n rasvrye Suid-Afrika bepleit. Hulle stel voor rasgebaseerde wetgewing moet geleidelik uitgefaseer en vervang word met beleide wat fokus op armoede, jeugwerkloosheid, vaardigheidsontwikkeling en ekonomiese groei. Connie Mulder van Solidariteit sê die huidige rassewette kon nie werkloosheid en ongelykheid aanspreek nie. Mulder voer aan bemagtiging moet gegrond wees op sosio-ekonomiese behoefte eerder as op ras:
# Gauteng se LUR vir Finansies, Nkululeko Dunga, sê ten spyte van ʼn begroting van 179-miljard-rand vir 2026/2027, staar die provinsie ernstige uitdagings in die gesig. Dit sluit in onderbesteding en toenemende versuim om verskaffers te betaal. Die totale onderbesteding van verskeie departemente se begrotings, insluitend voorwaardelike toelae, beloop sowat 1,4-miljard-rand. Dunga sê oploping het tot 9,3-miljard-rand gestyg wat veroorsaak dat diensverskaffers nie betaal word nie:
# Brittanje se minister van Gesondheid, Wes Streeting, het bedank en sê hy het vertroue in eerste minister Keir Starmer verloor. Die eerste minister is toenemend onder druk om te bedank ná die Arbeidersparty se rampspoedige vertoning in verlede week se plaaslike verkiesing. Redes vir sy bedanking sluit in dat progressiewe kiesers vertroue in die party verloor het, Starmer se wangedrag en die bedreiging van Nigel Farage se verregse Reform UK-party. Daar word bespiegel dat Streeting Starmer se leierskap van die Arbeidersparty gaan uitdaag.
# Rugby: Die Leeus sê hulle fokus slegs op môre se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Munster in Ierland en sal vir eers die moontlikheid ignoreer om vir die kwarteindronde te kwalifiseer of om uitgeskakel te word. Hulle is tans vyfde op die punteleer voor die laaste groepronde, maar kan dalk in Limerick ‘n groot oorwinning moet kry om kwalifisering te verseker, indien die uitslae van ander wedstryde teen hulle tel. Die voorspeler-afrigter Wessel Roux sê na verlede naweek se teleurstellende nederlaag teen ‘n ander Ierse span, Leinster, fokus hulle eerder op dinge wat hulle kan beheer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-913-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-611-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….