Nuus 07:00
BULLETIN 13 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Suid-Afrika se ekonomiese hervorming is te stadig om behoorlik werk te skep
# ‘n Ma en kind sterf in ‘n voorval waarby minister Motsoaledi se ampsmotor betrokke was
# En, Katar sê Iran moenie die Straat van Hormoes vir afpersing gebruik nie
# Die DA sê die jongste kwartaallikse arbeidsmagpeiling wys die noodsaaklikheid van ernstige ekonomiese hervorming. Volgens die peiling het Suid-Afrika in 2026 se eerste kwartaal 345-duisend werksgeleenthede verloor en die werkloosheidsyfer staan nou op 32,7-persent. Uitgebreide werkloosheid het tot 43,7-persent gestyg. Die DA-leier Geordin Hill-Lewis sê ekonomiese hervorming is te stadig, te versigtig en word te maklik deur ander prioriteite vervang. Hy sê die land se sentrale nasionale doelwit moet wees om die ekonomie te laat groei en werk te skep.
ActionSA sê intussen president Cyril Ramaphosa moet alle ministers in die regering van nasionale eenheid afdank wat verantwoordelik is vir ekonomiese beleid, na die jongste arbeidsmagopname van Statistieke Suid-Afrika. Alan Beesley van die party waarsku miljoene Suid-Afrikaners het nou opgehou om werk te soek en dringende optrede is nodig om die groeiende werkloosheidskrisis aan te spreek:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê prioriteite vir die 2026/2027-boekjaar sluit in die stryd teen korrupsie, beter toegang tot regsdienste en groter hervorming in die regsektor. Sy het gister die departement se begroting van 26,3-miljard-rand ingedien. Kubayi het bekendgemaak dat nog 20 howe vir seksuele oortredings in die huidige boekjaar in gemeenskappe met ‘n hoë voorkoms van hierdie misdade gevestig sal word, om fokus daarop te verseker. Sy sê haar departement brei ook toegang tot regsdienste in landelike gemeenskappe uit.
# Die polisie ondersoek twee sake van strafbare manslag na die dood van drie mense in twee afsonderlike voorvalle op die N1 in Limpopo. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, se ampsmotor was by een betrokke. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê ʼn vrou en haar twee kinders het die hoofweg probeer oorsteek toe die minister se voertuig hulle tref. Die vrou en een kind is dood. Mathe sê die vrou se man is in ʼn afsonderlike voorval dood toe hy deur ʼn polisiebeampte wat van diens af was se voertuig getref is:
# Katar het weer bevestig dat dit belangrik is om vrye beweging deur die Straat van Hormoes te beskerm en enige aanvalle teen handelsvaartuie of dreigemente teen maritieme sekuriteit veroordeel. Sowat ʼn vyfde van die wêreld se olie en vloeibare aardgas beweeg gewoonlik deur die seestraat. Teheran sê dit sal gesluit bly tot Amerika sy blokkade van Iranse hawens ophef. Katar se eerste minister, Sheikh Mohammed bin Abdulrahman bin Jassim Al Thani, sê die seestraat moenie as wapen vir afpersing gebruik word nie:
# Rugby: Die Stormers se Springbok-haker, André-Hugo Venter, sê enige plek onder tweede op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer sal nie goed genoeg wees nie. Die Kaapstadse span speel hierdie naweek teen Cardiff in Wallis in hul laaste groepwedstryd. Die Stormers is tans tweede op die ranglys en het reeds ‘n tuis-kwarteindstryd verseker. Venter sê hulle besef die sewende span met sy tuisveldvoordeel sal desperaat wees om die uitspeelrondes te haal, maar hulle is ewe vasbeslote om in die top‑twee te eindig en ‘n tuis-halfeindstryd te verseker indien hulle so ver vorder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-en-43-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-699-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….