Nuus 07:00
BULLETIN 28 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nkosazana Dlamini-Zuma gaan Fikile Mbalula se lastergeding teen haar teenstaan
# Die MK-party skors twee prominente LP’s
# En krieket: KSA onthul ‘n nuwe binnelandse struktuur vir 2026/2027
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee-lid, Nkosazana Dlamini-Zuma, hou by haar verklaring dat geld gebruik is om stemme in die party te beïnvloed. Sy het ‘n kennisgewing van voorneme ingedien om die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, se lastersaak teen haar te beveg. Dit hou verband met opmerkings wat sy op die African Renaissance-podsending gemaak het. Sy sê Mbalula het by die party se nasionale konferensie in Desember 2022 openlik geld uitgedeel om Cyril Ramaphosa se herverkiesing te verseker. Dlamini-Zuma sê geld se invloed in ANC-leierskapverkiesings bedreig die party se integriteit.
# Die MK-party het twee van sy prominente parlementslede, Khanyisile Litchfield-Tshabalala en Pumlani Kubukeli, geskors omdat hulle die party in oneer gebring het. Die party sê die besluit volg na ʼn reeds dade en gedrag deur die twee wat nadelig is vir sy reputasie, integriteit en algemene belange. Hy sê hy het reeds begin met die proses om Litchfield-Tshabalala en Kubukeli uit die Nasionale Vergadering te verwyder. Die MK-party waarsku dat alle partylede hulle volgens die party se grondwet en in belang van eenheid moet gedra.
# Die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders sê die hersiene invoervereistes beperk die beskikbaarheid van Argentynse beesstert in die plaaslike mark. Die organisasie sê die beperkings volg op veranderings aan Suid-Afrika se veeartsenykundige sertifikaat vir Argentynse beesvleis. Die uitvoerende hoof van die vereniging, Paul Matthew, sê die maatreëls beïnvloed die aanbod en plaas druk op verbruikers en vra die reëls moet dringend hersien word:
# Die Wes-Kaapse Departement van Mobiliteit sê hy sal stappe doen om geweld op die Khayelitsha-Somerset-Wes openbare taxiroete te beëindig. Die departement, die Stad Kaapstad en die taxibedryf begin Maandag met bemiddeling om die konflik op te los. Meer verkeersbeamptes sal ook die betrokke gebiede patrolleer, terwyl voertuie wat bedryfsreëls oortree, geskut sal word. Muneera Allie van die Departement sê die veiligheid van pendelaars en bestuurders bly ‘n prioriteit:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, vra 17,59-miljard-rand om ʼn plan om die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo te bekamp, volledig te befonds. Volgens berigte is vyf-duisend-713 gevalle en twee-duisend-744 sterftes aangemeld. Hierdie Ebola-epidemie versprei die vinnigste ooit. Guterres sê die DRK-regering en die Wêreldgesondheidsorganisasie het ʼn VN-beampte as senior Ebola-koördineerder aangestel, wat aan vyf prioriteite moet aandag gee:
# Krieket: Krieket Suid-Afrika het die plaaslike 2026/2027-seisoen met ʼn herstruktureerde kompetisieformaat begin. Die grootste verandering is die bekendstelling van die Pro20-beker wat die voormalige T20-uitdaging en die T20-uitklop-kompetisies in ʼn enkele premier-kompetisie saamvoeg. Die uitgebreide Pro20 sal bestaan uit 16 spanne van Afdeling 1 en Afdeling 2, en ʼn Suid-Afrikaanse opkomende span. Die Eendag-beker se nuwe naam is Dafabet Pro50. Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Pholetsi Moseki, sê die herstruktureerde kompetisies skep ʼn duidelike en verenigde identiteit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-398-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-578-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….