Nuus 07:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 17 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Finansies sê voedselprodukte sonder BTW gaan nie uitgebrei word nie
# Die Sentrum vir Risiko-ontleding is gekant teen die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering
# En, Gift of the Givers vra die onmiddellike uitsetting van Israel se ambassadeur in Suid-Afrika
# Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, sê hulle oorweeg nie tans om die reeks produkte sonder BTW uit te brei nie. Hy het gister deelgeneem aan ʼn parlementêre debat wat deur die DA aangevra is om noodsaaklike verligtingsmaatreëls te bespreek. Masondo sê indien geen BTW op meer voedselsoorte gehef word nie, sal dit belastinginkomste verlaag en minder geld sal beskikbaar wees om armes op spesifieke maniere te help. Hy het beklemtoon alhoewel dit goed bedoel en nodig is dat sommige produkte van BTW vrygestel word, is ʼn maatskaplike oordragstelsel om armes deur spesifieke ingrypings te help, verkieslik en beter.
# Die Sentrum vir Risiko-ontleding sê die regering se voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering hou ‘n wesenlike risiko in vir die lewensvatbaarheid van privaat mediese fondse. Die organisasie glo die plan om mediese belastingkrediete af te skaf en die fondse te herlei om die NGV te ondersteun, is ‘n bedreiging vir die volhoubaarheid van privaat gesondheidsorg. Chris Hattingh van die sentrum waarsku so ‘n stap sal privaatsektor- belegging, vernuwing en mededinging in Suid-Afrika ontmoedig:
Speel klankgreep: ENG HattinghOnHealthCare
# Die Valke het ʼn derde persoon in hegtenis geneem in verband met die moord op die gewese politikus en aktivis, Loyiso Nkohla. Hy is in April by die Philippi-treinstasie in Kaapstad doodgeskiet nadat hy ʼn gemeenskapsvergadering bygewoon het. Die Valke se woordvoerder, Siyabulela Vukubi, sê ʼn 39-jarige verdagte is gister in Peddie in die Oos-Kaap gearresteer en hy verskyn vandag in die Oos-Londense landdroshof:
Speel klankgreep: ENG VukubiOnThirdArrest
# ʼn Afvaardiging van die Amerikaanse president se vigs-verligting-noodplan het sy tevredenheid uitgespreek met die gehalte van gesondheidsdienste wat die Stad Ekurhuleni by sy klinieke lewer. Die span het die Thembisa-hoofkliniek besoek. Die stad sê die afvaardiging was beïndruk om te leer dat 97-persent MIV-positiewe pasiënte by die Thembisa-hoofkliniek op antiretrovirale medikasie bly. Een van die afvaardiging se lede, Jason Bowman, sê die prestasie maak dit maklik om motivering te verskaf vir meer fondse vir die stad se vigs-program.
# Die Suid-Afrikaanse humanitêre organisasie Gift of the Givers bepleit die onmiddellike uitsetting van die Israelse ambassadeur in Suid-Afrika, Eliav Belotserkovsky, en die beëindiging van diplomatieke bande met die land. Dit volg op die dood van die kantoorhoof van die organisasie in Gaza, Ahmed Abbasi, wat saam met sy broer doodgeskiet is ná die oggendgebed. Volgens die organisasie is Abbasi doelbewus deur Israeliese magte geteiken. Stigter Imtiaz Sooliman eis Israel moet oorlogsvergoeding betaal om Gaza weer op te bou asook vergoeding vir elke enkele gesin wat hulle afgemaai het:
Speel klankgreep: ENG SoolimanOnExpulsion
# Motorsport: Die driedubbele Formule Een-wêreldkampioen, Max Verstappen, sê die naweek se Grand Prix in Las Vegas is 99-persent pure vertoon en slegs een-persent ‘n sportgebeurtenis. Die wedren vind in die strate van die Amerikaanse dobbelstad plaas, insluitend ‘n gedeelte van die wêreldbekende Las Vegas Strip. Verskeie sangers, onder andere Kylie Minogue en Journey, het tydens Woensdag se openingseremonie opgetree, terwyl Verstappen en ander bestuurders ongelukkig is oor sommige van die eise wat aan hul tyd in Las Vegas gestel word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-528-dollar-9-sent. Die prys van goud is een-duisend-984-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….