Nuus 07:00
BULLETIN 31 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie senior IDAC-amptenare word geskors
# Die jongste poging om Trump se aanvalle te kniehalter misluk in die Senaat
# En rugby: Die Griekwas verwelkom die Cheetahs in Kimberley in die naweek se eerste Curriebeker-kragmeting
# Die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie se hoof-ondersoekbeampte, Dylan Perumal, en senior ondersoekbeamptes Brian Padayachee en Suneel Bellochun is geskors, hangende ‘n tugverhoor. Hulle skorsing volg dae nadat president Cyril Ramaphosa Andrea Johnson se versoek om as IDAC-hoof te bedank, aanvaar het. Die drie word onder meer beskuldig dat hulle sake gemanipuleer het. Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê alle IDAC-werknemers sal leefstyloudits ondergaan en alle sake wat tans voor die hof is, sal hersien word:
Die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, Andy Mothibi, wil intussen IDAC binne die volgende ses maande omkeer. Dit volg na onthullings by die Madlanga-kommissie dat Johnson ʼn reeks ondersoeke teen beamptes van Misdaadintelligensie en die taakspan oor politieke moorde sonder behoorlike meriete goedgekeur het. Mothibi sê sy kantoor het ʼn herstelprojek by IDAC begin en voeg by aanspreeklikheid sal ʼn belangrike faktor wees:
# Die ministerie van Vervoer het die kabinet se goedkeuring verwelkom om die geldigheid van rybewyse vir ligte motorvoertuie van vyf tot tien jaar te verleng. Die verandering is van toepassing op ligtevoertuig- en motorfietslisensies, terwyl swaarvoertuiglisensies en professionele bestuurspermitte hul huidige hernuwingstydperke sal behou. Die woordvoerder van die ministerie, Collen Msibi sê die verandering sal slegs in werking tree wanneer die vereiste geregtelike wysigings en openbare konsultasieproses voltooi is:
# Die Ekurhuleni-raad het die hoof van menslike hulpbronne, Linda Gasheka, die hoof van regsdienste, Kemi Behari, en Moloko Monyepao afgedank na bewerings van wangedrag. Gasheka en Behari is by die Madlanga-kommissie beskuldig dat hulle die geskorste hoof van die Ekurhuleni Metropolisiedepartement, Julius Mkhwanazi, beskerm het en salarisverhogings van 600-duisend-rand ontvang het. Monyepao is afgedank oor vermeende nalatigheid wat die metro twee-miljard-rand se verlies aan inkomste gekos het. Die metro sê die drie se afdankings volg na die afhandeling van tugprosesse teen hulle.
# Die Republikeine in die Amerikaanse Senaat het weereens die resolusie oor oorlogsmagte wat president Donald Trump sou dwing om Amerikaanse magte aan vyandelikhede met Iran te onttrek, gekeer. Die resolusie is met 49 teen 50 afgekeur, met die Demokratiese senator, John Fetterman, wat saam met die Republikeine gestem het. Dis die tweede keer in twee weke dat die Senaat ʼn oorlogsmagte-resolusie afkeur. Die Demokratiese leier in die Senaat, Chuck Schumer, sê volgens hom is hierdie oorlog een van die grootste katastrofes in Amerika se geskiedenis:
# Rugby: Die verdedigende Curriebekerkampioen, die Griekwas, verwelkom vanaand die voorloper op die puntelys, die Cheetahs, in Kimberley in die eerste wedstryd van die derde ronde. Môre speel die Stormers teen die Haaie in ‘n kusderby in Kaapstad, gevolg deur die Jukskei-derby tussen die Leeus en die Bulle in Johannesburg. Sondag speel Boland en die Pumas teen mekaar in Wellington. Boland is tans tweede op die puntelys nadat hulle albei hul eerste wedstryde gewen het. Die Leeus is derde, gevolg deur Griekwas, die Haaie, die Stormers, die Pumas en die Bulle.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-862-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-85-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….