Nuus 07:00
BULLETIN 17 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tinyiko Maluleke en Roelf Meyer word aangestel as mede-voorsitters van die groep van vooraanstaande persone
# Volgens aanbeveling moet ‘n parlementêre ad hoc-komitee Mkhwanazi se bewerings ondersoek
# En rugby: Rassie Erasmus verdedig die Bokke se onkonvensionele taktiek in die tweede toets teen Italië
# President Cyril Ramaphosa het die voorsitter van die Nasionale Beplanningskommissie, Tinyiko Maluleke, en oudminister Roelf Meyer as medevoorsitters aangestel om die Nasionale Dialoog se groep vooraanstaandes te lei en te koördineer. Die ondervoorsitters is die gewese parlementslid Lindiwe Mazibuko en bekroonde vuurpylwetenskaplike, Siyabulela Xuza, terwyl die studente-aktivis, Nompendulo Mkhatshwa, die sekretaris sal wees. Ramaphosa sê hy is dankbaar dat hierdie individue ingestem het om die verantwoordelikheid te aanvaar en by te dra tot die doeltreffende funksionering van die groep.
# Die parlementêre komitees oor Justisie en Polisie het aanbeveel ‘n ad hoc-komitee word aangestel om KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings te ondersoek. Hy beskuldig die minister van Polisie, Senzo Mchunu, van korrupsie en politieke inmenging by hoëprofielondersoeke. Die ad hoc-komitee word volgende week amptelik aangestel. Die polisiekomitee se voorsitter, Ian Cameron, sê ʼn dringende uitslag oor die bewerings is noodsaaklik om die integriteit en reputasie van die hele strafregstelsel te beskerm:
# Eskom sê hy is besig met kragprojekte van vyf-gigawatt by ses steenkoolpersele, met twee gigawatt wat teen 2026 via openbare-privaat vennootskappe ingestel sal word. Die groepsbestuurder, Bheki Nxumalo, sê dit is deel van Eskom se Billike Energie-oordrag-strategie om teen 2040 20-gigawatt skoon krag by te voeg. Die projekte, met sonkrag, batterye en gas, is op ontkoling gemik terwyl sosio-ekonomiese groei aangedryf word. Eskom sê gemengde befondsing en sterk bestuur sal die sleutel tot die belegging wees.
# Die GOOD-party sê openbare grond in Johannesburg moet al die inwoners bedien, nie net die bevoorregte groepe nie. Dit volg na voorstelle om groot gedeeltes openbare grond in Ruimsig en Emmarentia te verhuur of te verkoop, insluitende die Killarney Buiteklub, wat tans vir so min as een-duisend-rand per jaar verhuur word. Matthew Cook van die GOOD-party sê die grond moet vir maatskaplike behuising, jeugsentrums en inklusiewe ontwikkeling gebruik word, en nie vir eksklusiewe ontwikkelings en elite klubs nie:
# President Donald Trump sê dis hoogs onwaarskynlik dat hy die Federale Reserweraad se voorsitter, Jerome Powell, gaan afdank. Trump het Dinsdag met wetgewers vergader en volgens berigte was die meerderheid ten gunste van Powell se afdanking. Sy tweede termyn as voorsitter verstryk volgende jaar in Mei, maar hy kan tot in 2028 aanbly as ʼn goewerneur van die sentrale bank. Trump sê Powell doen swak werk:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het sy span se buitengewone taktiek in verlede naweek se toets teen Italië in Gqeberha verdedig. Hy wil weet wie besluit of ‘n beweging in die gees van die spel is of nie. Dit volg na klagtes dat senter André Esterhuizen doelbewus beweeg het voordat Manie Libbok afgeskop het. Dit het ‘n skrum op die middellyn afgedwing, en later ‘n middelveldlynstaan wat op ‘n drie uitgeloop het. Erasmus sê die spel het beslis vernuwing nodig wat geprys en nie afgeskiet moet word nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-264-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….