Nuus 07:00
BULLETIN 7 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer sê die ondersoek na minister Mchunu vorder
# Rugby: Die Leeus sê hulle is in Dublin om te wen
# En die mediamagnaat wat CNN gestig het, Ted Turner, is oorlede
# Die Openbare Beskermer se kantoor sê die ondersoek na die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, gaan voort en maak goeie vordering. Die African Transformation Movement het verlede jaar ‘n formele versoek aan die Openbare Beskermer gerig om Mchunu se gedrag te ondersoek. Dit was nadat KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, verdoemende bewerings van wangedrag en politieke inmenging teen die minister gemaak het. Die Openbare Beskermer erken daar was terugslae omdat belangrike getuies nie beskikbaar was nie, maar hou vol hulle maak vordering.
# Die DA sal vandag sy Wetsontwerp op Ekonomiese Insluiting vir Almal in die Parlement voorlê. Die party se beleidshoof, Mat Cuthbert, sê Swart Ekonomiese Bemagtiging het na 30 jaar misluk om breë insluiting te lewer, en bevoordeel ‘n klein elite terwyl miljoene steeds uitgesluit is. Hy sê die Wetsontwerp vervang rasgebaseerde reëls met ‘n uitkomsgedrewe stelsel wat fokus op werksgeleenthede, belegging, vaardighede en kleinsakegroei, en versterk aanspreeklikheid:
# Die boere-inisiatief, FMD Response SA, sê daar is ʼn 90- tot 95-persent kans dat die regering se huidige bek-en-klouseer-inentingsveldtog sal misluk. Die regering sê hy wil teen Desember 80-persent van die land se beeste inent. FMD Response SA se voorsitter, Stephen Butt, het aan Business Day TV gesê die enigste manier om te keer dat die siekte versprei, is deur seker te maak die 14-miljoen beeste in die land word binne ses tot agt weke ingeënt om immuniteit teen die siekte te verseker:
# Die Verenigde Nasies se Menseregtekantoor vra Israel om onmiddellik twee lede van die Global Sumud Flotilla, wat in internasionale water aangehou word, vry te laat. Saif Abukeshek en Thiago de Avila was onder tientalle aktiviste wat as deel van ʼn flottielje op pad was na Gaza, maar Israelse magte het hulle op 30 April in internasionale water naby Griekeland onderskep. Van die sowat 180 aktiviste is slegs twee na Israel geneem waar hulle in aanhouding bly. Die VN sê Israel moet ophou met praktyke wat internasionale menseregte-standaarde oortree.
# Rugby: Die Leeus sê hulle is in Dublin om Saterdag die Ierse kragreus, Leinster, in hul Verenigde Rugbykampioenskap-groepwedstryd te klop, al word hulle as die buiteperd beskou. Die Johannesburgse span, wat hulle laaste ses wedstryde gewen het, is tans derde op die punteleer en benodig slegs een ligapunt om vir die heel eerste keer vir die kwarteindronde te kwalifiseer. Die verdedigingsafrigter, Jaque Fourie sê die spelers is gefokus, wetende dat dit moeilik is om in Ierland te toer en teen een van die oudste klubs ter wêreld te speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-271-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-712-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte: Die media-magnaat en filantroop, Ted Turner wat CNN gestig het, is op 87-jarige ouderdom dood. Die sakeman van Atlanta het die moderne 24-uur nuuskultuur begin toe hy die CNN-kanaal in 1980 bekendgestel het. Turner is as ʼn visionêr beskou en was in 1991 TIME Magazine se “Man van die Jaar”. Hy het in 2018 onthul dat hy aan Lewy-liggaam-demensie, ʼn progressiewe brein-versteuring, ly. CNN se uitvoerende hoof, Mark Thompson, beskryf Turner as ʼn visionêr en natuurkrag:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….