Nuus 07:00
BULLETIN 5 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra verbeterde dienslewering in munisipaliteite
# Die voorsitter van die OVK is bemoedig deur die opbouende vergadering met die MK-party
# En die Verenigde Arabiese Emirate sê hulle het die reg om op Iran se jongste aanvalle te reageer
# President Cyril Ramaphosa vra beter dienslewering en ‘n verskuiwing in munisipale bestuur. Hy het gister deelgeneem aan die ANC se nasionale werkskomitee se besoek aan die Nelson Mandela-streek in die Oos-Kaap. Die besoek is deel van ʼn landwye program om vordering met dienslewering in metropolitaanse munisipaliteite te monitor. Ramaphosa sê daar moet beter na dorpe en stede gekyk word:
# Die Verkiesingskommissie se voorsitter, Mosotho Moepya, sê hy is bemoedig deur die opbouende ontmoeting met die MK-party. Die kommissie en die MK-party, insluitend die leier, Jacob Zuma, het gister in KwaZulu-Natal vergader. Die MK-party het voorgestel die verkiesing word uitgestel tot hul griewe uit die 2024-verkiesing aangespreek is. Moepya sê geen kwessies is tydens die ontmoeting opgelos nie, en verdere beraadslaging sal in aanloop tot die verkiesing plaasvind:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê daar is ernstige bestuursprobleme by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Dit volg na berigte dat verskeie raadslede sedert Julie verlede jaar bedank het, wat kommer laat ontstaan of die raad steeds behoorlik sy werk kan verrig en sy wetlike pligte kan nakom. Rudie Heyneke van OUTA waarsku die verlies aan belangrike finansiële kundigheid en vertragings in leierskapsaanstellings en besluitneming, verswak die toesig oor die instelling wat 50-miljard-rand bestuur:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n groot saak van bedrog in Ekurhuleni ontbloot oor die onwettige verkoop van 221 munisipale eiendomme in Villa Liza, ter waarde van ongeveer 58-miljoen-rand. News24 berig meer as 200 sake is vir verdere ondersoek na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys, met bykomende verwysings na die Regspraktykraad, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Finansiële Intelligensiesentrum. Die Spesiale Ondersoekeenheid sê die eiendomme is tussen 2019 en 2024 oorgedra sonder munisipale goedkeuring, en met vals dokumente.
# Die Verenigde Arabiese Emirate sê hy behou die volle en wetlike reg om op hernude Iranse aanvalle te reageer. Iran gebruik missiele en hommeltuie, en teiken burgerlike persele en fasiliteite. Die Verenigde Arabiese Emirate het gister drie Iranse missiele oor sy gebiedswater onderskep, en ʼn vierde een het in die see gestort. ʼn Brand het by die Fujairah-oliebedryfsone uitgebreek ná ʼn hommeltuigaanval, vermoedelik deur Iran, waarin drie Indiese burgers gewond is. Die VAE sê hierdie aanvalle is ʼn gevaarlike eskalasie en onaanvaarbare oortreding.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, gaan probeer om sy rekord te verbeter deur ʼn sesde agtereenvolgende ATP Meesters Eenduisend-kroon by die Italiaanse Ope te buit. Hy begin sy veldtog teen Alex Michelsen of Sebastian Ofner. Sinner is na die loting saam met Felix Auger-Aliassime, Ben Shelton en Daniil Medvedev in ʼn groep. In die onderste deel van die loting keer die sesmalige kampioen, Novak Djokovic, na meer as ses weke terug en sy eerste wedstryd is óf teen Marton Fucsovics óf ʼn kwalifiseerder. Lorenzo Musetti en Casper Ruud is ook in Djokovic se groep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-208-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-536-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 111-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….