Nuus 07:00
BULLETIN 30 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa roep die Uitgebreide Presidensiële Koördineringsraad byeen
# OUTA dring aan op sterker fiskale dissipline ten spyte van die tydelike brandstofheffingverligting
# En Pete Hegseth sê die VSA herbou ‘n weermag wat vrees by sy teenstanders inboesem
# President Cyril Ramaphosa vergader vandag in Boksburg, Gauteng, met die Uitgebreide Presidensiële Koördineringsraad. Dit is die president se platform vir beraadslaging en besprekings met provinsies en georganiseerde plaaslike regering om kwessies van nasionale belang te opper, prioriteite te koördineer en prestasie te bespreek. Die Presidensie sê hulle sal onmiddellike ingryping bespreek om die stelsel te stabiliseer, asook volhoubare korttermyninstrumente aanvaar om infrastruktuur-veerkragtigheid, beter bestuur en ‘n kultuur van aanspreeklikheid te verseker.
# Die Organisasie Teen Belastingmisbruik, sê hoewel die verlenging van die brandstofheffingverligting in Mei korttermynhulp aan verbruikers bied, moet die regering die geleentheid gebruik om fiskale dissipline te versterk. Die organisasie vra strenger beheer oor openbare besteding, minder verkwistende uitgawes en verbeterde deursigtigheid rondom strategiese brandstofreserwes. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê langtermynbestendigheid sal afhang van sterker begrotingsbestuur en strenger finansiële hervormings:
# Die ANC het sy aansoek om verlof tot appèl teen ʼn interdik wat sy 10de verkiesingskonferensie in die Oos-Kaap gekeer het, teruggetrek. Drie lede van Buffalo City het die hof genader om die konferensie op die nippertjie te keer, en aangevoer dit oortree die ANC-grondwet en Artikel 19 van die land se Grondwet. Die ANC sê die onttrekking volg na ontvangs van die regter se amptelike redes vir die tussentydse bevel, en op aanbeveling van sy regspan.
# Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê president Donald Trump se administrasie herbou ʼn weermag waarop Amerikaners trots kan wees; een wat vrees by sy vyande en die grootste vertroue by sy bondgenote inboesem. Hy het gister voor die Huis-komitee vir Gewapende Dienste verskyn. Hegseth veroordeel teenkanting teen die oorlog in Iran, en sê die kritiek volg terwyl die konflik twee maande aan die gang is, wat aansienlik korter is as die oorloë in Irak, Afghanistan en Viëtnam:
# Krieket: Sophie Devine, Suzie Bates en Lea Tahuhu sê hul deelname vir Nieu-Seeland aan die vroue se T20-Wêreldbeker is hul laaste doelwit. Al drie het aangekondig hulle gaan uittree na die toernooi in Engeland en Wallis wat in Junie begin. Afrigter Ben Sawyer sê die trio het voortreflike loopbane gehad en dit is ‘n seldsame en spesiale geleentheid vir hulle om hulle loopbane by dieselfde toernooi af te sluit. Kaptein Amelia Kerr se groep sluit tien spelers in wat Suid-Afrika in die eindstryd van die 2024-toernooi geklop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-199-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-568-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 110-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Drie leerders sal Suid-Afrika by die Regeneron Internasionale Wetenskap- en Ingenieursfees verteenwoordig. Die geleentheid, wat van 9 tot 15 Mei in Phoenix, Arizona in die VSA plaasvind, is die wêreld se grootste voor-kollege-wetenskapkompetisie en bring bykans een-duisend leerders van meer as 80 lande bymekaar. Die Suid-Afrikaanse deelnemers sal projekte oor kunsmatige intelligensie, omgewingswetenskap en biomediese navorsing aanbied, na sterk vertonings by die Eskom Expo Internasionale Wetenskapfees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….