Nuus 07:00
BULLETIN 29 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê die verlengde brandstofheffingverligting sal 17,2-miljard-rand kos
# Die redakteur van die Sunday Times is op spesiale verlof geplaas na ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid
# En atletiek: Suid-Afrika oorheers die eerste Simbine Classic
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die koste van die tydelike verlaging van die brandstofheffing, van April tot Junie 2026, beteken ‘n verlies van ongeveer 17,2-miljard-rand aan belastinginkomste. Die regering het die vermindering van drie-rand per liter vir petrol en 3,93-rand per liter vir diesel tot Junie verleng. Godongwana sê dis ʼn strategiese maatreël wat die verwagte hoër inflasie wil teenwerk wat deur stygende globale oliepryse veroorsaak word:
# Die redakteur van die Sunday Times, Makhudu Sefara, is op spesiale verlof geplaas nadat die Spesiale Ondersoekeenheid hom verbind het met beweerde misbruik van loteryverwante befondsing. Die SOE sê ongeveer 1,5-miljoen-rand wat bedoel was vir ‘n media-ontwikkelingsprojek is gebruik vir privaat doeleindes, insluitend betalings aan ‘n maatskappy wat in Sefara se naam geregistreer is. Die koerant se eienaars, Arena Holdings, het ‘n onafhanklike ondersoek van stapel gestuur. Sefara ontken enige oortreding.
# Die sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, het ‘n klag ingedien teen die Madlanga-kommissie se hoofgetuienisleier, Matthew Chaskalson, waarin hy wangedrag beweer en versoek dat Chaskalson van die ondersoek onttrek word. Mogotsi sal sy getuienis op 15 Mei voortsit, dieselfde dag wat die aansoek om onttrekking aangehoor sal word. Chaskalson sê die kommissie het nog nie die formele aansoek gesien nie:
# South32 en Eskom se gesprekke vorder oor ‘n langtermyn-elektrisiteitsoplossing vir die Hillside Aluminium Smelter in KwaZulu-Natal, wat na verwagting in 2031 in werking sal tree. ‘n Gesamentlike werkgroep sal die integrasie van hernubare energie ondersoek, met die versterking van kapasiteit onder die huidige regulasies. Beide partye sê die plan is daarop gemik om nywerheidsgroei, werksekerheid en ontkolingsdoelwitte te ondersteun. Die inisiatief sal na verwagting die breër kragstelsel bevoordeel terwyl dit Hillside se toekoms verseker, wat duisende werksgeleenthede en ekonomiese aktiwiteite in die streek ondersteun.
# Die Zambiese regering het ʼn heroorwegingsaansoek by die Gautengse Hooggeregshof ingedien. Dit sal ʼn hofbevel uitdaag wat beveel dat oudpresident Edgar Lungu se oorskot aan die Two Mountains-lykshuis in Pretoria oorhandig word. Die Zambiese regering het verlede week die Hooggeregshof-bevel van Augustus 2025 uitgevoer wat hom die reg gee om Lungu se oorskot na Zambië te neem vir ʼn staatsbegrafnis. Lungu se familie het egter ʼn dringende bevel gekry dat sy liggaam aan die lykshuis terugbesorg word. Die regering sê hierdie bevel is in sy afwesigheid toegestaan.
# Atletiek: Suid-Afrika het die mans en vroue se 4×100-meter aflosse by die eerste Simbine Classic-byeenkoms in Tshwane gewen. Emmanuel Eseme van Kameroen het die Amerikaner, Pjai Austin, geklop toe hy die mans se 100 meter-item in 10,03-sekondes genael het. Akani Simbine is halfpad deur die wedloop beseer en het laaste gekom. Die Suid-Afrikaner Prudence Sekgodiso het die vroue se eenduisend-500-meter gewen en Tshepo Tshite die mans se drie-duisend-meter. Die Keniaan Noah Kibet het in die mans se 800-meter koning gekraai. Simbine sê die geleentheid was ʼn sukses:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-177-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-585-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….