Nuus 07:00
BULLETIN 27 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mmusi Maimane sê BOSA se verkiesingsveldtog is georganiseerd en gefokus op mense
# Donald Trump glo Iran se Opperleier is nie dood nie
# En laastens, die ikoniese ster van The Rocky Horror Picture Show, Tim Curry, is oorlede
# Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, sê die party se verkiesingsveldtog is vereenvoudig, professioneel georganiseer en bied kiesers landwyd geloofwaardige kandidate. BOSA gaan in die November-verkiesing met 794 kandidate in 24 munisipaliteite in vyf provinsies deelneem. Die meeste van sy kandidaatlyste is in Johannesburg, Tshwane, Ekurhuleni, Kaapstad en Mangaung. Maimane sê BOSA gebruik metodes wat seker maak burgers word eerste gestel:
# Die Verkiesingshof het bevind die GOOD-party het die Wet op Politieke Befondsing oortree wat ‘n onverklaarde veldtog-skenking van 900-duisend-rand betref. Die party het versuim om die skenking, om T-hemde en promosie-items te koop voor die 2021 munisipale verkiesing, te verklaar. Die hof het die party beveel om 50-duisend-rand te betaal vir oortreding van Artikel 9 van die Wet. Die party en sekretaris-generaal Brett Herron, as rekenpligtige amptenaar, moet ook ʼn administratiewe boete van 40-duisend-rand betaal vir oortreding van Artikel 12 van die Wet, wat handel oor hantering van ʼn politieke party se inkomste.
# Die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala sê sommige gesprekke wat hy met die kommissaris van Polisie van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, gehad het, het tot sy arrestasie gelei. Matlala het aan die Madlanga-kommissie gesê die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, het probeer om ‘n vergadering tussen hom en Mkhwanazi te reël. Matlala het voor getuienisleier Alida Hassim geweier om besonderhede van gesprekke met die geskorste adjunkkommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya bekend te maak en gesê dit maak deel uit van sy regsaak:
# President Donald Trump sê hy glo nie Iran se opperleier, Ayatollah Mojtaba Khamenei, is dood nie. Die seun van die voormalige opperleier, Ayatollah Ali Khamenei, is as Iran se nuwe leier gekies nadat sy pa in Februarie in Amerikaanse aanvalle dood is. Die jonger Khamenei het sedertdien nog nooit in die openbaar verskyn nie. Volgens berigte is hy dood of breindood. In ʼn onderhoud met die konserwatiewe radio-omroeper, Glenn Beck, sê Trump dat Khamenei baie ernstig gewond is in die aanvalle waarin sy pa dood is:
# Tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen, Stan Wawrinka, is op die nippertjie as promotorskeuse aanvaar in die Amerikaanse Ope se mans-enkelspel-trekking. Die 41-jarige Switser wat die einde van die jaar uittree, het aanvanklik nie daarvoor gekwalifiseer nie. Die Amerikaanse tennisvereniging het kritiek ontvang na die besluit. Die Amerikaanse promotorskeuse, Patrick Kypson, moes egter weens ʼn besering onttrek, en Wawrinka, die 2016-kampioen, is ʼn plek in die hooftrekking aangebied. Die Amerikaanse Ope begin Sondag by Flushing Meadows.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-735-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-624-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Die akteur Tim Curry, veral bekend vir sy vertolkings in The Rocky Horror Picture Show, Clue en die TV-minireeks It, is op 80-jarige ouderdom oorlede by sy huis in Toluca Lake, Los Angeles. Hy het ook in flieks soos Annie, The Hunt for Red October, Home Alone 2 en Scary Movie 2 verskyn. Curry se jare lange bestuurder en vriend, Marcia Hurwitz, sê sy grootste nalatenskap is sy nuuskierige verstand, en vrygewige en sagte hart wat tot sy laaste asem oop en vol verwagting was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….