Nuus 07:00
BULLETIN 23 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê ‘n nuwe beleidsdokument oor elektrisiteitshervorming word afgehandel
# Die EFF het ‘n klag teen die aanklaer in Malema se vuurwapensaak ingedien
# En Britse wetgewers keur ’n lewenslange rookverbod vir vandag se onder-18’s goed
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê ‘n nuwe nasionale elektrisiteitprys-beleid is in die laaste stadiums van ontwikkeling. Eskom se regstreekse klante betaal sedert die begin van die maand 8,76-persent meer vir elektrisiteit. Munisipale klante betaal van Julie af 9,01-persent meer. Ramokgopa sê die elektrisiteithervorming-beleidstuk is ʼn samehangende beleidsverklaring van die hervorming wat vir die elektrisiteitsvoorsieningsbedryf beplan word:
# AfriForum sê ‘n uitspraak deur die Konstitusionele Hof versterk die skeiding van magte en beperk die invloed van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. Die hof het eenparig beslis die kommissie kan nie bindende riglyne uitreik nie en dat sy bevindinge slegs afdwingbaar is indien dit ‘n bevel van die hof gemaak word. Die saak spruit voort uit ‘n dispuut oor toegang tot boorgatwater op ‘n plaas in Mpumalanga. Louis Boshoff van AfriForum het die beslissing verwelkom as ‘n belangrike presedent vir toekomstige sake:
# Die EFF het ʼn klag teen die aanklaer, Joel Cesar, by die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings ingedien. Cesar het Julius Malema in sy vuurwapensaak aangekla, wat gelei het tot sy vonnis van vyfjaar-tronkstraf na sy skuldigbevinding aan die oortreding van vuurwapenwette. Die party sê Cesar het die Strafproseswet oortree deur die vuurwapen in die saak aan die eienaar, Adriaan Snyman, terug te gee. Hy beskuldig Cesar ook dat hy sy regsmag oorskry en ingemeng het by regspleging.
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê sy land is gereed vir enige vorm van onderhandelinge met Rusland. Hy sê dis ʼn groot risiko om te dink pogings om gevegte te beëindig kan eers weer begin as die konflik in Iran verby is. Hy het aan CNN gesê die oorlog in Iran het die fokus weggeneem van Moskou se aggressie teen sy land. Zelensky sê wêreldleiers, insluitend president Donald Trump, moet met die Russiese president Vladimir Putin praat om die oorlog te beëindig:
# Gholf: Die PGA-toer se uitvoerende hoof, Brian Rolapp, sê hulle sal bykomende maniere oorweeg om LIV-spelers wat wil terugkeer, terug te bring. Dit volg na berigte dat LIV-gholf sy finansiële ondersteuning van Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds kan verloor. Die vyfmalige Major-wenner, Brooks Koepka, het LIV in Januarie verlaat en onder die program vir terugkerende lede weer by die PGA-toer aangesluit. Die 2018 Meesterskampioen, Patrick Reed, sal na verwagting in Augustus weer by die Toer aansluit. Rolapp sê hy stel belang in alles wat die PGA-toer beter maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-258-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-735-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 96-dollar-97-sent per vat.
# En ten slotte: Persone in Brittanje wat 17 jaar of jonger is, en enigiemand wat in die toekoms gebore word, sal nooit wettig sigarette kan koop nie, nadat wetgewers nuwe strenger beperkings op rook goedgekeur het. Die Wetsontwerp op Tabak en Damprook verhoog die wettige ouderdom vir die koop van tabak elke jaar met een jaar, en begin met mense wat op of na 1 Januarie 2009 gebore is. Dit beteken die betrokke ouderdomsgroepe sal ‘n lewenslange verbod moet verduur. Die regering sê die maatreëls sal help om rook te verminder en verhoed dat jongmense verslaaf raak aan nikotien, wat langtermyndruk op die Nasionale Gesondheidsdiens sal verlig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….