Nuus 07:00
BULLETIN 20 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie sê die bewerings deur die geskorste Mpumalanga-kommissaris kan nie geïgnoreer word nie
# Donald Trump herhaal sy dreigement om Iran se kragsentrales en brûe te vernietig
# En krieket: Wolvaardt en Luus lei die Protea-vroue na ‘n oorwinning in die tweede T20 teen Indië
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê die geskorste polisiekommissaris van Mpumalanga, Daphney Manamela, se bewerings sal geassesseer en na die betrokke ondersoekeenhede verwys word vir verdere optrede. Manamela het gister tydens ‘n nuuskonferensie die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, beskuldig dat hy gunslone ontvang en by sommige ondersoeke in die provinsie inmeng. Sy beweer ook dat die gewese minister van Polisie, Bheki Cele, ingemeng het. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê Manamela se bewerings is ernstig en kan nie geïgnoreer word nie:
# Die Forum for South Africa sê hy sal voortgaan om druk uit te oefen vir strafregtelike vervolging in alle groot finansiële misdade. FOSA-leier Tebogo Mashilompane sê duisende het al hul spaargeld verloor na die plundering van die VBS Mutual Bank terwyl die wat met die beskerming van finansiële integriteit vertrou is, aktief aan die misleiding deelgeneem het. Hy waarsku die versuim om aanspreeklikheid af te dwing, weerspieël ‘n dieper sistemiese swakheid onder die leierskap van president Cyril Ramaphosa en die ANC:
# Die EFF in Gauteng vra die Stad Tshwane om die Openbare Beskermer se verslag oor vermeende wanadministrasie wat met werwingsprosesse verband hou, dringend ter tafel te lê en die volle inhoud bekend te maak. Die bevindings toon volgens berigte foute met die aanstelling van senior amptenare en betrek die stadsbestuurder, Johann Mettler, wat voorsitter was van die betrokke paneel. EFF-woordvoerder, Dumisani Baleni, sê enige poging om die bekendmaking te vertraag, onderdruk of net gedeeltes bekend te maak, kom neer op gebrek aan grondwetlike aanspreeklikheid:
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, sê die regering versterk stelsels vir aanspreeklikheid terwyl hy ook die stryd teen korrupsie verskerp. Mabuyane het die Jongmansgilde se 95ste Jaarlikse Distrikskonvensie in Dimbaza toegespreek. Hy sê die regering werk daaraan om te verseker dat openbare hulpbronne vir hul beoogde doel gebruik word, naamlik vir die opheffing van die mense. Hy het bygevoeg dat die regering nie alleen hierdie hernuwing kan bereik nie. Dit vereis ‘n benadering waarby gesinne, gemeenskappe en selfs die kerk betrokke moet wees.
# President Donald Trump van Amerika het sy dreigement herhaal om Iran se infrastruktuur, insluitend kragaanlegte, te verwoes tensy die Teheran-regime instem tot ʼn ooreenkoms om die oorlog te beëindig. Hy het bevestig visepresident JD Vance lei vandag nog ʼn rondte vredesonderhandelings in Islamabad, Pakistan. In ʼn lang inskrywing op Truth Social, beskuldig Trump Iran dat hy die huidige skietstilstand-ooreenkoms oortree deur die Straat van Hormoes te blokkeer. Hy sê Amerika “verloor niks” as die seestraat gesluit is nie, maar Iran verloor miljoene dollars.
# Krieket: Die Protea-vroue het Indië in die tweede T20 in Durban met agt paaltjies verslaan en loop met 2-0 voor in die reeks van vyf wedstryde. Tumi Sekhukhune en Chloe-Lesleigh Tryon het elkeen drie paaltjies platgetrek en die besoekers was op 147 almal uit. Daarna het kaptein Laura Wolvaardt en Suné Luus saam vir 106 lopies gesorg en Suid-Afrika het die teiken bereik met 17 balle oor. Die derde en vierde toetse word Woensdag en Saterdag op die Wanderers gespeel en die laaste een Maandag in Benoni.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-698-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-809-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….