Nuus 07:00
BULLETIN 17 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê onderwys moet in lyn wees met ‘n tegnologiegedrewe ekonomie
# Die regering het ‘n nuwe geïntegreerde renosterbewaringsplan bekendgestel
# En die Amerikaanse minister van Verdediging sê die militêre blokkade van Iranse hawens sal voortduur
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika moet werksvaardighede en breër menslike ontwikkeling heroorweeg om op ‘n veranderende wêreld te reageer. Hy het gister in Johannesburg die vyfde beraad van die Menslike Hulpbronne Ontwikkelingsraad toegespreek. Mashatile sê vinnige veranderinge in hoe mense leer en werk, aangedryf deur tegnologie, verskuiwende demografie en ekonomiese druk, vereis nuwe fokus op vaardighede en menslike ontwikkeling. Hy het die belangrikheid van die herbeplande strategie vir menslike-hulpbronontwikkeling beklemtoon wat die land se vaardigheidsontwikkelingstelsel wil hervorm, werkloosheid verminder en onderwys in lyn met ekonomiese behoeftes bring.
# Die Regterlike Dienskommissie het die Oos-Kaapse regterpresident, Selby Mbenenge, aan growwe wangedrag skuldig bevind. Dit keer ʼn beslissing van die geregtelike gedragstribunaal om wat hom skuldig bevind het aan wangedrag, maar nie growwe wangedrag nie. Dit spruit uit bewerings van seksuele teistering. Die kommissie sê Mbenenge se optrede, insluitend pogings om ʼn verhouding met ʼn junior werknemer, Andiswa Mengo, aan te knoop, is uiters onvanpas en strydig met ʼn geregtelike posisie. Hy sê hy sal president Cyril Ramaphosa vra om Mbenenge te skors terwyl die Parlement oorweeg of ʼn ampsklag teen hom ingestel moet word.
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, het ‘n hersiene bestuursplan vir swart- en witrenosters se biodiversiteit aangekondig om renosterbewaring in Suid-Afrika te versterk. Die plan kombineer vorige strategieë in een raamwerk om koördinering tussen die regering, bewaringsgroepe, privaatgrondeienaars en gemeenskappe te verbeter. Dit is bedoel om ‘n meer verenigde benadering tot die beskerming van renosterbevolkings te bied, met implementering onder die toesig van die departement totdat ‘n nuwe nasionale koördineringskomitee opgestel word.
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi, het aan die Madlanga-kommissie gesê bewerings van korrupsie en misdaadaktiwiteite het sy lewe vernietig en sy familie benadeel. Hy is ondervra oor bewerings van betrokkenheid by ‘n ontvoering- en afpersingstransaksie, ‘n moordtoesmeerdery en dat hy geld van ‘n polisie-informant ontvang het. Mkhwanazi ontken enige wandade en sê hy verstaan nie hoe hy met die skandale verbind is nie:
# Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê hulle sal Iranse hawens blokkeer solank as wat nodig is. President Donald Trump het Maandag aangekondig dat die weermag Iran se hawens in die Straat van Hormoes en die Golf sal blokkeer nadat Amerika en Iran se samesprekings in Pakistan misluk het. Daar is tans ʼn skietstilstand tussen die twee lande, maar dit verstryk komende Woensdag. Hegseth het Iran se weermag gewaarsku:
# Gholf: Twee Franse spelers, Agathe Laisne en Ariane Klotz, en die Amerikaner Brianna Navarrosa, loop saam voor na die aanvangsronde van die Johannesburgse Vroue Ope by die Randpark-gholfklub. Die drie staan op sewe onder baansyfer na 66 houe. Hulle is een hou voor die Australiër, Justice Bosio, die Skot Laura Beveridge en Jess Baker van Engeland. Die Suid-Afrikaner, Casandra Alexander, is drie houe agter met vier onder 69, maar sê sy is tevrede met die goeie begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-789-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-777-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….