Nuus 07:00
BULLETIN 26 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC soek leiers met integriteit, bekwaamheid en nederigheid
# Kanada kondig vergeldingstariewe op Amerikaanse goedere aan
# En rugby: Die All Blacks veg terug om die Leeus te klop
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party het die proses om kandidate te kies, benader met die erns wat dit verdien. Die party se Nasionale Uitvoerende Komitee het gister ‘n uitgebreide vergadering gehou. Dit is die laaste fase om die nasionale lys saam te stel voor kandidate se name aan die Verkiesingskommissie oorhandig word vir die plaaslikeregeringsverkiesing in November. Mbalula sê hulle het op elke stadium seker gemaak dat kandidate aan die standaarde voldoen wat van openbare verteenwoordigers vereis word:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, en die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n driejaar-ooreenkoms onderteken om belegging in toerisme-infrastruktuur te bespoedig. Die vennootskap beoog om toerismeplanne in lewensvatbare projekte te omskep wat werk kan skep en ekonomiese groei bevorder. De Lille sê Infrastruktuur Suid-Afrika sal deskundige ondersteuning verskaf om te help om prioriteitsprojekte voor te berei en dit aantrekliker vir privaat beleggers te maak:
# Die vakbond Solidariteit dreig met regstappe teen die Departement van Korrektiewe Dienste oor die indiensneming van byna 200 voormalige G4S-werkers by die Mangaung-korrektiewe sentrum in die Vrystaat. Volgens die vakbond het die Arbeidshof gelas die werknemers moet na die departement oorgeplaas word met hul bestaande regte en diensjare ongeskonde. Theunis van Staden van Solidariteit sê sommige werkers is sonder salarisse en voordele en dring aan die hofbevel moet geïmplementeer word.
# Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming sê die Stad Johannesburg se begroting is toenemend van die werklikheid verwyder, en noem dat inwoners nie tariewe en dienste-rekeninge betaal nie. Dit kom te midde van die metro se gebrek aan dienslewering en verswakkende infrastruktuur. Volgens die organisasie se jongste verslag het onbetaalde rekeninge aan die stad toegeneem van 15-miljard-rand in 2014/2015 tot byna 72-miljard-rand in 2024/2025. Intussen het werknemer-verwante koste die afgelope dekade met nege-persent toegeneem. Die organisasie sê die metro moet vertroue in die akkuraatheid van sy rekeningstelsel en finansiële bestuur herbou.
# Kanada gaan van 8 September af vergeldingstariewe instel op ʼn wye reeks Amerikaanse produkte ter waarde van sowat 322,47-miljard-rand. Die tariewe van 15- tot 50-persent sal meer as 700 Amerikaanse produkte raak, insluitend staal en aluminium, meubels, klere en vis. Dit is in reaksie op tariewe van 50-persent wat president Donald Trump se administrasie op ʼn klein persentasie Kanadese goedere ingestel het nadat hulle nie ʼn handelsooreenkoms kon bereik nie. Kanada se eerste minister, Mark Carney, sê hulle sal onderhandel as Amerika die regte houding het:
# Rugby: Die All Blacks het skoonskip gemaak onder Suid-Afrika se konsessie-spanne met ʼn welverdiende 41-35-sege oor die Leeus op Ellispark in Johannesburg. Dit volg na oorwinnings teen die Stormers, Haaie en Bulle. Nieu-Seeland het ook die Springbokke in die eerste toets met 33-16 verslaan. Die Leeus het in die eerste helfte briljant gespeel en geleenthede gebruik om teen rustyd voor te loop. Die All Blacks, wat 18 punte agter was, het in die tweede helfte egter teruggeveg om die Leeus te klop. Die besoekers het altesaam sewe drieë gedruk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-869-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-644-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….