Nuus 07:00
BULLETIN 10 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die kandidaatproses was billik en geloofwaardig
# AfriForum waarsku teen ideologiese vooroordeel in die voorgestelde geskiedenis-sillabus
# En krieket: Beyers Swanepoel word deur die Leeus afgedank nadat hy die Eendagbeker-eindstryd tydens spel verlaat het
# Die DA sê die kandidaat-proses in aanloop tot die verkiesingskongres was in ooreenstemming met die party se demokratiese en deursigtige interne stelsels. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, en Sedibeng se koukusleier, Sibusiso Dyonase, ding die naweek by die kongres in Midrand, Gauteng, mee vir die posisie van DA-leier. Die Federale Kongres se voorsittende beampte, Desiree van der Walt, sê al die prosesse word ondersteun deur streng oorsigstrukture om regverdigheid en geloofwaardigheid te verseker:
# AfriForum moedig ouers, onderwysers en belanghebbendes aan om terugvoer in te dien oor die Departement van Basiese Onderwys se voorgestelde nuwe geskiedenisleerplan vir graad 1 tot 12 wat op 20 Maart in die Staatskoerant gepubliseer is. Alana Bailey van AfriForum beklemtoon geskiedenis moet objektief aangebied word om kritiese denke, empatie en geletterdheid te bevorder. Sy waarsku dat bevooroordeelde inhoud mites kan verskans of sondebokke kan skep, en dring aan op meer gemeenskapsgerigte onderrig:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n skulderkenning van Rubicon Communications en sy uitvoerende hoof, Hangwani Mudangawe Nengovhela, ontvang. Die Nasionale Vaardigheidsfonds het in November 2018 byna 2,7-miljoen-rand aan die maatskappy toegeken om ʼn leierskap- en vaardigheid-ontwikkelingsplan vir 100 leerders op te stel. Dit het egter nooit gebeur nie. Die Ondersoekeenheid sê die geld is gebruik om Rubicon se bedryfsuitgawes, logistiek, masjienaankope, huurkontrakte, skoolfooie en persoonlike oordragte te betaal. Hy sê die fonds sal die volle bedrag, plus rente en onkoste, terugkry.
# Die Verenigde Koninkryk se minister van Verdediging, John Healey, beskuldig Rusland dat hy die Iran-oorlog gebruik om vyandelike aktiwiteite teen Europa uit te voer. Dit volg nadat Brittanje, Noorweë en ander lande gereageer het op die afgelope weke se toenemende Russiese aktiwiteit in die Noord-Atlantiese Oseaan. Healey sê tydens die maand lange operasie is drie Russiese duikbote opgespoor wat probeer het om belangrike ondersese infrastruktuur in die Noord-Atlantiese Oseaan waar te neem. Hy sê hulle het gekeer dat die vaartuie “onderduimse” operasies uitvoer:
# Krieket: Lions Cricket en die veelsydige Beyers Swanepoel het ooreengekom dat hul paaie onmiddellik skei nadat hy in ʼn omstrede voorval ʼn plaaslike eindstryd in die middel van die wedstryd verlaat het om ʼn vlug na Engeland te haal. Die 27-jarige speler het op 29 Maart in die Eendagbeker-eindstryd teen die Titans op Wanderers die veld verlaat met sewe boulbeurte oor. Sy voortydige vertrek sonder toestemming het sy span met tien spelers gelaat en die Lions het die wedstryd met drie paaltjies verloor. Swanepoel speel in die Engelse graafskap-seisoen vir Worcestershire.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-282-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-765-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte: CapeNature het ‘n spesiale brandgefokusde seisoen van sy Green Noise-internetuitsending bekendgestel, wat kyk na die Cederberg- en Wilderness-veldbrande in Desember, waarin 53-duisend hektaar verwoes is. Die reeks, met brandbestryders, bewaringsbewustes en klimaatkundiges, ondersoek veldbrand-bestuur, lugondersteuning en die menslike en ekologiese uitwerking. Luke Folb van CapeNature sê klimaatsverandering, saam met menslike bedrywighede, verhoog die felheid van brande en verleng die seisoen. Hy sê die uitsending is beskikbaar op CapeNature se webwerf en alle groot platforms, met sienings oor bewaring, noodreaksie en gemeenskapsveerkragtigheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….