Nuus 07:00
BULLETIN 2 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AgriSA en Agbiz waarsku dat brandstofverligting alleen nie die voedselstelsel sal bestendig nie
# Die Verkiesingskommissie vra vir openbare kommentaar oor voorgestelde deposito-bedrae vir die verkiesing
# En Iran verwerp Trump se bewerings dat hulle ‘n skietstilstand versoek het
# AgriSA en die Landbousakekamer sê die brandstofheffingverlaging alleen is nie genoeg om Suid-Afrika se voedselstelsel te stabiliseer nie. Terwyl hulle die tydelike verligting van ongeveer drie-rand per liter verwelkom, waarsku die groepe dat boere steeds onder druk verkeer as gevolg van stygende kunsmiskoste, voorraadbeperkings en knap winsgrense. Die uitvoerende hoof van Agbiz, Theo Boshoff, sê brandstof is ‘n belangrike produksiekoste, dus bied die verlaging korttermyn verligting, maar uitgebreide maatreëls is nodig om voedselvoorraad te verseker en die landbouwaardeketting te beskerm.
# Die Verkiesingskommissie het ‘n kennisgewing gepubliseer om belanghebbers wat belangstel uit te nooi om kommentaar te lewer oor die voorgestelde bedrag van deposito’s vir die komende munisipale verkiesing. Die kommissie verwag die grootste getal kandidate vir die verkiesing, met meer as 100-duisend voornemende kandidate in meer as vier-duisend-460 wyke landwyd. Die kommissie se hoof-verkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê voorgestelde deposito’s wissel van een-duisend-800-rand vir ʼn enkele wyk tot vier-duisend-700 rand vir ʼn setel op ʼn metroraad:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het regters Nana Makhubele en Mushtak Parker ʼn maand lank uitstel gegee om geskrewe voorleggings in te dien oor waarom hulle nie in ʼn staat van beskuldiging geplaas moet word nie. Hulle is skuldig bevind aan growwe wangedrag en na die Parlement verwys om moontlik van die regbank verwyder te word. Makhubele het nie as tussentydse voorsitter van die Passasierspooragentskap bedank nadat sy in 2018 as regter aangestel is nie. Wat Parker betref, is daar bevind sy het gelieg oor ʼn fisiese onderonsie met regterpresident John Hlophe.
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê die provinsiale regering het gekoördineerde stappe gedoen om wateronderbrekings wat ses weke gelede ʼn hoogtepunt bereik het, te hanteer. Dit sluit ʼn beheersentrum in om met nasionale instellings en munisipaliteite saam te werk. Lesufi sê van die korttermynmaatreëls sluit in druk-bestuur, die herstel van lekplekke en die koördinering van watertenkwaens. Hy voeg by die bouwerk aan ʼn nuwe grond-reservoir en toring in Brixton is voltooi en maak reeds ʼn merkbare verskil aan watervoorsiening in Johannesburg se voorstede:
# Iran se ministerie van Buitelandse Sake beskryf president Donald Trump van Amerika se bewerings dat hulle ʼn skietstilstand gevra het, as vals en ongegrond. Trump sê in ʼn inskrywing op Truth Social hy sal die versoek slegs oorweeg nadat Teheran die Straat van Hormoes, die lewensbelangrike skeepsroete vir olie en gas, heropen het. Iran se paramilitêre Rewolusionêre Mag sê die Straat van Hormoes is onder beheer van sy magte en sal nie vir die vyande van Teheran oopgestel word nie.
# Krieket: Die wêreldkampioen, Indië, het bevestig hy gaan in Julie drie T20’s teen Zimbabwe in Harare speel. Dit sal die Asiatiese reuse se eerste besoek aan dié Afrikaland wees sedert middel 2024. Die twee lande se mees onlangse wedstryd was in die Wêreldbekertoernooi, toe Indië met 72 lopies gewen het. Zimbabwe Krieket se besturende direkteur, Givemore Makoni, sê die reeks is ‘n groot geleentheid vir spelers en ondersteuners. Zimbabwe gaan Indië in Januarie volgende jaar besoek vir ‘n reeks van drie eendagwedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-444-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-695-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….