Nuus 07:00
BULLETIN 1 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die verlaging in brandstofheffings, wat verligting vir Suid-Afrikaners bring
# Die Stad Tshwane neem beheer oor 15 nuwe munisipale watertenkwaens
# Die VN se hoof van Menseregte doen ‘n beroep op Israel om die doodstraf te herroep
# Die DA verwelkom die daling van drie-rand in die brandstofheffing wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, aangekondig het. Amerika en Israel se oorlog in Iran het wêreldwyd paniek veroorsaak en brandstofpryse tot rekordhoogtes opgejaag. Die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne hou vol die land se brandstofvoorraad is tans bestendig. Mark Burke van die DA sê hulle sien uit na meer besonderhede oor hoe hierdie laer brandstofheffing befonds gaan word:
Build One South Africa het intussen ook Godongwana, se besluit verwelkom om die algemene brandstofheffing vir April met drie-rand te verminder om die druk van stygende lewenskoste te verlig. Die stap is daarop gemik om stygende vervoerkoste vir Suid-Afrikaners te verlig te midde van wêreldwye oliepryswisselvalligheid as gevolg van die VSA-Iran-konflik. Roger Solomons van BOSA sê hoewel die verligting welkom is, is langtermynmaatreëls nodig om huishoudings teen volgehoue hoë brandstofpryse te beskerm.
# Die parlementêre ad hoc-komitee sê die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, se voormalige assistent, Sarah-Jane Trent, is tydens haar getuienis regverdig behandel. Haar prokureur het versoek dat die komitee haar getuienis ongeldig verklaar. Trent sê in ‘n brief aan die komitee sy het aan posttraumatiese stres gely en het haar tydens haar verskyning verlede maand nie gedra soos sy wou nie. Die komiteevoorsitter, Soviet Lekganyane, sê Trent is nooit gedwing om voort te gaan met haar getuienis nie:
# Die Stad Tshwane het ‘n waterstabiliseringsplan van stapel gestuur wat daarop gemik is om ‘n betroubare watervoorraad te herstel en die afhanklikheid van uitgekontrakteerde watertenkdienste te verminder. As deel van die optrede is 15 nuwe munisipale watertenkwaens in gebruik geneem, wat die stad se vloot tot 41 voertuie uitbrei. Die fokus is op die herstel van lekkasies en die opgradering van reservoirs en pompstasies. Die burgemeester Nasiphi Moya sê die plan sal verseker dat inwoners ononderbroke water direk uit die munisipale netwerk ontvang:
# Die Verenigde Nasies se hoof van Menseregte, Volker Türk, sê Israel se nuwe wet wat weer die doodstraf instel, is hoofsaaklik op Palestyne gemik, is diskriminerend en moet opgehef word. Volgens die nuwe wet wat Maandag in die Israelse parlement bekragtig is, sal Palestyne in die Wesoewer wat deur militêre howe skuldig bevind word aan dodelike aanvalle wat as terrorisme geklassifiseer word, die doodstraf ontvang. Türk sê dis baie moeilik om die doodstraf met menswaardigheid te vereenselwig, en dit skep die gevaar dat onskuldige mense die doodstraf kry.
# Krieket: Die Punjab Kings het hul Indiese Premierliga-veldtog goed afgeskop met ʼn welverdiende oorwinning van drie paaltjies oor die Gujarat Titans in Nieu-Chandigarh. Vyshak Kumar het drie paaltjies laat kantel en die Gujarat Titans is in hul 20 boulbeurte beperk tot ʼn beskeie 162 vir ses. Daarna het die nuweling Cooper Connolly ʼn onoorwonne 72 van 44 balle gemoker met Prabhsimran Singh wat 37 aangeteken het om Punjab met vyf balle oor tot oorwinning te lei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-216-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-705-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….