Nuus 07:00
BULLETIN 31 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyf beamptes wat met die Medicare24-kontrak verbind word, het kennisgewings van voornemende skorsing ontvang
# AgriSA sê hofverrigtinge lei die aandag af van dringende pogings om bek-en-klouseer te beheer
# En rugby: 14 Springbokke is ingesluit in die Bulle se toergroep vir die Glasgow-kragmeting
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het kennisgewings van voorneme om te skors uitgereik aan vyf van die 12 senior polisiebeamptes wat by die omstrede Medicare24-kontrak van 360-miljoen-rand betrek word. Die misdaad-baasbrein Vusimusi “Cat” Matlala het na bewering top-polisiebeamptes, insluitend generaals, omgekoop om die kontrak aan sy maatskappy, Medicare24 toe te ken. Die 12 beamptes het verlede week in die hof verskyn en is tans uit op borgtog. ‘n Polisiewoordvoerder, Lineo Nkhuoa, sê die vyf mag voorleggings indien:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê Eskom se besluit om die sperdatum vir sonkragregistrasie te verleng, bied korttermynverligting aan huishoudings, maar spreek nie die fundamentele gebreke in die beleid aan nie. Die organisasie voer aan die verlenging volg op sterk openbare weerstand teen ‘n vereiste wat nie duidelike wetlike en praktiese regverdiging het nie. Dit doen ‘n beroep op die nutsmaatskappy om onnodige burokrasie te skrap. Volgens OUTA word koste deur die bykomende administratiewe koste opgejaag en skep verwarring vir inwoners en klein sakeondernemings wat reeds energie-onsekerheid moet hanteer.
# AgriSA vra verenigde nasionale reaksie op die voortgesette uitbreking van bek-en-klouseer. Dit volg na die uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria wat die regering opdrag gegee het om sy inentingsplan teen 17 April te formaliseer. Die organisasie waarsku dat hofverrigtinge tydens die dieregesondheidskrisis gekoördineerde pogings vertraag het om die siekte te beheer. Die uitvoerende hoof van AgriSA, Johann Kotzé, sê hulle sal voortgaan om met alle belanghebbendes saam te werk om die verspreiding van die siekte te bekamp.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê hy gaan ʼn regsfirma aanstel om die noodlottige voorval te ondersoek toe ʼn muur by die Lerutle Primary School in Daveyton, Ekurhuleni, omgeval en ʼn graad 3-leerder se lewe geëis het. ʼn Deel van die muur het tydens pouse ingestort en op ses leerders beland. Die agtjarige Lwazi Motuse is in die hospitaal aan sy beserings dood. LUR Matome Chiloane sê die regsfirma sal help om die feite rondom die tragedie te bepaal:
# Die G7-ministers van energie en finansies, en presidente van sentrale banke sê hulle is gereed om alle nodige maatreëls te tref om die energiemark se bestendigheid en veiligheid te beskerm. Dit volg nadat Amerika en Israel se aanvalle op Iran en Teheran se wraakaanvalle op Midde-Oosterse lande wat ruolie uitvoer, energiepryse die hoogte laat inskiet het. Die aanvalle verhoed ook dat skepe deur die Straat van Hormoes vaar. Die G7-ministers sê hulle erken die belangrikheid van gekoördineerde internasionale optrede om oorskotte te bekamp en makro-ekonomiese bestendigheid te beskerm.
# Rugby: Veertien Springbok-spelers is by die Bulle se toergroep van 33 ingesluit vir die naweek se Kampioenebeker-kragmeting teen die Glasgow Warriors in Skotland. Die Bokke in die groep sluit spelers in soos Handrè Pollard, Willie le Roux, Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie. Die jongspan, Cheswill Jooste en Reinhardt Ludwig, is ook ingesluit ná goeie prestasies die afgelope weke. Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê die wedstryd teen Glasgow gaan ʼn groot uitdaging wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-765-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-582-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….