Nuus 07:00
BULLETIN 30 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die VSA-Israelse oorlog is nog ‘n daad van imperialisme
# Pous Leo veroordeel leiers wat God as regverdiging vir oorlog gebruik
# En die Grensbestuursowerheid verleng grenspos-ure vir Paasfees
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê Amerika en Israel se oorlog teen Iran is imperialistiese aggressie wat die wêreldekonomie en internasionale veiligheid in groot gevaar plaas. Volgens die Red Crescent is minstens een-duisend-900 mense in Amerika en Israel se aanvalle op Iran dood. Ramaphosa het gister die slotrede gelewer by die ANC se elfde verkiesingskonferensie in Limpopo en sê Suid-Afrika ondersteun die soewereiniteit van ander nasies:
Pous Leo beskryf intussen die konflik tussen Iran, Israel en Amerika as afgryslik en sê God kan nie gebruik word om oorlog te regverdig nie. Sy opmerkings volg nadat Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, verlede week tydens ‘n godsdiensgeleentheid by die Pentagon gebid het vir geweld teen vyande wat geen genade verdien nie. Die eerste Amerikaans-gebore pous het tydens ʼn Palmsondag-mis op Sint Pietersplein gesê God luister nie na die stemme van mense wat oorlog voer nie, maar verwerp hulle. Hy het herhaaldelik gevra vir ʼn skietstilstand in die streek.
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur en leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, sê hy gaan regstappe teen talle partye instel, insluitend die nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, en uitsaaier eNCA. Dit volg na ʼn televisieonderhoud waarin die gevangene, Jermaine Prim, sekere bewerings teen McKenzie maak. Hy beweer die minister het vir hom twee selfone gestuur terwyl in die tronk was, en dat die Patriotic Alliance en sommige van sy lede dwelmkartelle verteenwoordig. McKenzie ontken die bewerings ten sterkste en sê dis net vuil politiekery.
# Die Grensbestuursowerheid en Departement van Binnelandse Sake het die bedryfsure by sommige van die belangrikste grensposte, wat nie 24 uur per dag oop is vir die komende Paaslangnaweek nie, verleng. Tydens die bekendstelling van die operasionele plan vir Paasfees het kommissaris Michael Masiapato gesê minister Leon Schreiber het die uitbreidings by Groblersbrug, Kopfontein, Kosibaai, Jeppes Reef en Caledonspoort goedgekeur:
# Die veelparty-koalisieregering van die Stad Tshwane het sy konsepbegroting vir die 2026/27-boekjaar vir openbare raadpleging ter tafel gelê. Dit is die tweede agtereenvolgende ten volle befondsde begroting wat deur die administrasie ter tafel gelê is, wat die stad se verbintenis tot finansiële bestendigheid en ’n geloofwaardige, kontantgesteunde begroting versterk. Die onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise, sê die konsepbegroting weerspieël ‘n gedissiplineerde finansiële raamwerk, met bedryfsinkomste wat met sewe-persent toeneem en uitgawes wat binne volhoubare perke gehou word, wat ‘n gebalanseerde en befondsde posisie tot gevolg het.
# Gholf: Martin Vorster van Suid-Afrika het die DNi-toerkampioenskap by die De Zalze-gholfklub in die Wes-Kaap gewen en sy eerste Sonskyntoer-titel opgeraap. Hy het klaargemaak met 66 om op 21 onder baansyfer te wen. Sy landgenote, Altin van der Merwe en Jaco Prinsloo, deel die tweede plek met 19 onder. Dit was die laaste toernooi van die Courier Guy-uitspeelronde om die Sonskyntoer se 2025/2026-seisoen af te sluit. Vorster sê dis baie spesiaal om uiteindelik die lyn oor te steek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-671-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-500-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….