Nuus 07:00
BULLETIN 25 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen verwelkom die hofbeslissing oor die nasionale bek-en-klouseerstrategie
# Fikile Mbalula sê die ANC is gereed om die Oos-Kaapse verkiesingskonferensie in die hof te verdedig
# En rugby: Jean de Villiers sê die Springbokke kan nie Malcolm Marx voor die Wêreldbeker verloor nie
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, verwelkom die Gautengse afdeling van die Hooggeregshof se bevestiging dat die departement wettig gesag het om Suid-Afrika se hantering van bek-en-klouseer te reguleer en te bestuur. Sakeliga en ander organisasies het die aansoek ingedien om dringende tussentydse verligting te kry wat ongereguleerde privaat verkryging en administrasie van entstowwe buite die nasionale raamwerk sou toelaat. Steenhuisen sê die hof het die departement ‘n redelike tydraamwerk gegee om ʼn inentingsraamwerk te publiseer:
# Everest Wealth sê Suid-Afrika se grootste ekonomiese risiko is nie stygende inflasie nie, maar wel die stadige implementering van noodsaaklike hervormings. Die ekonoom Thys van Zyl waarsku oor swak logistiek, energie-onsekerheid en vertragings in hervorming, wat groei vertraag. Groei is tans ongeveer 1,5-persent, wat laer is as in ander ontluikende markte. Van Zyl voer aan dringende optrede is nodig met hawens, spoorweë en brandstofreserwes om groei tot drie-persent te verhoog en teen wêreldwye terugslae te beskerm. Hy het beklemtoon vinniger uitvoering, en nie beplanning nie, die sleutel is om die land se ware ekonomiese potensiaal te ontsluit.
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party sal homself in die hof verdedig teen pogings om die Oos-Kaapse provinsiale verkiesingskonferensie te keer. ʼn Faksie ontevrede lede het hulle na die hof gewend om ʼn interdik teen die konferensie te kry. Hulle voer knoeiery met lidmaatskap aan, asook prosedurele onreëlmatighede en dat sommige leiers faksies manipuleer. Die provinsiale sekretaris, Lulama Ngcukayitobi, het ook kommer uitgespreek oor die konferensieprosedures. Mbalula sê ANC-lede moenie party-geskille in die hof oplos nie:
# AfriForum doen ‘n beroep op die Gautengse regering om die bekendstelling van nuwe voertuignommerplate te staak na bevindinge dat drie vervaardigers pryse onwettig vasstel. Die Mededingingskommissie sê die kartel is sedert middel-2023 in werking, wat koste vir motoriste opjaag. Louis Boshoff van AfriForum waarsku die nuwe nommerplate kan die vervaardigers verder laat wins maak, en dring daarop aan dat die owerhede wag totdat die Mededingingstribunaal sy saak afgehandel het:
# Die Libanese president, Joseph Aoun, sê die huidige konflik tussen Israel en Libanon kon vermy word indien Israel gehoor gegee het aan versoeke om aan dele van suidelike Libanon te onttrek. Die Israelse weermag voer lugaanvalle op Libanon uit sedert Hezbollah se oorgrens-aanval op 2 Maart in reaksie op die dood van Iran se opperleier, ajatolla Ali Khamenei. Volgens berigte is meer as ʼn duisend mense dood sedert Israel se jongste aanvalle teen Hezbollah begin het. Aoun sê Israel se optrede moet veroordeel word.
# Rugby: Die Springbok-legende Jean de Villiers sê Suid-Afrika kan nie bekostig om Malcolm Marx voor die 2027 Wêreldbeker te verloor nie. Die sterk voorspeler is as 2025 se Wêreld-rugbyspeler van die Jaar aangewys en het in November ʼn groot rol gespeel in die Bokke se wedstryde teen Frankryk en Ierland. De Villiers het aan Planet Rugby gesê indien die Bokke Marx verloor, is hulle in die moeilikheid, want hy is baie belangrik vir die span. Die Bokke is die gunstelinge om ʼn ongeëwenaarde derde agtereenvolgende Wêreldbeker-titel te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-744-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-577-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….