Nuus 07:00
BULLETIN 17 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit gaan met die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings oor arbeidspraktyke praat
# Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan weer korrupsieklagte teen Zizi Kodwa instel
# En Donald Trump kritiseer die lande wat nie met die Straat van Hormoes wil help nie
# Die vakbond Solidariteit beplan om dringend met die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings in gesprek te tree oor ‘n ondersoek na beweerde diskriminerende arbeidspraktyke. ‘n Ondersoek deur die Kantoor van die Verenigde State se Handelsverteenwoordiger kan lei tot hoër tariewe of handelsbeperkings indien daar bevind word Suid-Afrika het die bepalings oortree. Jaco Kleynhans van Solidariteit waarsku rassewetgewing en indiensnemingskwotas in die werkplek kan as diskriminerend beskou word en die land aan ekonomiese strafmaatreëls blootstel:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag is voornemens om weer die korrupsie-aanklagte teen die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, en gewese ANC-woordvoerder Zizi Kodwa in te stel. Die NVG het die aanklagte teen Kodwa en sy medebeskuldigde, die uitvoerende hoof van EOH, Jehan Mackay, in November 2024 laat vaar. Volgens berigte het Kodwa gunslone van byna 1,7-miljoen-rand van Mackay ontvang in ruil vir regeringskontrakte vir sy maatskappy. Die NVG sê die saak sal binnekort op die hofrol wees.
# Berigte doen die rondte dat die ANC die Johannesburgse burgemeester, Dada Morero, wil herroep, maar hy sê hy het nog geen amptelike kennisgewing ontvang nie. Volgens die berigte het ‘n dringende en spesiale streeksvergadering van die uitvoerende gesag Saterdag besluit om Morero te verwyder en voer sy swak vertoning by verlede jaar se streeks-verkiesingskonferensie, en bestuursprobleme as rede aan. Morero sê die enigste amptelike kommunikasie wat hy ontvang het, was ʼn oproep dat die metro dienslewering versnel:
# President Donald Trump van Amerika kritiseer bondgenote wat sy versoek om hulp om die Straat van Hormoes teen Iranse aanvalle te beveilig, verwerp het. Hy sê Amerika het tot dusver in die oorlog sewe-duisend teikens getref en meer as 100 skepe gesink. Die Straat hanteer daagliks sowat 20-persent van die wêreld se totale olieverbruik. Trump het gister by die Withuis gesê sommige lande is nie lojaal genoeg aan Amerika nadat hulle dekades lank ondersteuning ontvang het nie:
# Sokker: Chelsea is met sowat 240-miljoen-rand beboet ‒ die Premierliga se grootste boete ooit. Hy het ook ʼn oordragverbod van een jaar gekry, wat vir twee jaar opgeskort is. Dit volg nadat die klub erken het hy het geheime betalings van meer as een-miljard-rand aan ongeregistreerde agente en derde partye gemaak in verband met oordragte tussen 2011 en 2018, toe Roman Abramovich die eienaar was. Chelsea het ook ʼn akademie-oordragverbod van nege maande ontvang. Die Premierliga sê die totale boete is gehalveer omdat die Blues dit self aangemeld, en met die ondersoek saamgewerk het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-790-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-10-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-80-sent per vat.
# En ten slotte: Drie jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes gaan hul navorsing by die Internasionale Fees vir Ingenieurswetenskap en -tegnologie in Tunisië ten toon stel. Die leerders, almal medaljewenners by verlede jaar se Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes, sal projekte oor skoollogistiek, lugvaartingenieurswese en kunsmatige intelligensie aanbied. Die fees vind volgende week plaas en sal kulturele uitstappies en wetenskap-aktiwiteite insluit. Eskom sê die geleentheid beklemtoon Suid-Afrika se ontluikende wetenskaplike talent en gee jong innoveerders die kans om tot wêreldwye oplossings by te dra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….