Nuus 07:00
BULLETIN 24 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel Ndabeni-Abrahams as waarnemende minister van Gesondheid aan
# ‘n Ontleder sê die ANC benodig bekwame burgemeesterskandidate om openbare vertroue te herstel
# En motorsport: Lando Norris wen die Nederlandse Grand Prix
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, as waarnemende minister van Gesondheid aangestel in die plek van Aaron Motsoaledi. Minister Motsoaledi is steeds met siekteverlof. Die Presidensie sê Ndabeni-Abrahams sal van vandag af tot 30 September al die minister van Gesondheid se funksies oorneem. Hy sê Ramaphosa doen die aanstelling volgens Artikel 98 van die Grondwet.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê munisipale infrastruktuur is noodsaaklik vir dienslewering en ekonomiese groei. Hy het in Kaapstad by die simposium vir volhoubare infrastruktuurontwikkeling in Suid-Afrika gepraat. Die geleentheid wat tans plaasvind, bring uiteenlopende rolspelers byeen. Dit sluit in beleggers, finansiële instellings, beleidmakers, meningsvormers en ander belangrike vennote wat Suid-Afrika se infrastruktuur-beleggingsmandaat moet bevorder. Macpherson sê hulle moet beloftes omsit in uitvoerbare infrastruktuurprojekte en werkende bates:
# Die politieke ontleder, professor Levy Ndou, sê die ANC benodig bekwame burgemeesters- en uitvoerende kandidate wat dienste kan lewer, openbare vertroue herstel en koalisies bestuur. Die ANC gaan in September verskeie burgemeesterskandidate aankondig. Ndou sê die besluit om die aankondiging van sy burgemeesterskandidate uit te stel, kan dui op onopgeloste interne prosesse en kommer oor partyeenheid. Ndou sê die party staar ‘n moeilike stryd in sleutelmetro’s in die gesig te midde van mislukkings in dienslewering, finansiële druk en koalisie-onbestendigheid.
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, sê die stad is op ‘n meer volhoubare finansiële pad nadat sy agterstallige elektrisiteitskuld van 5,25-miljard-rand aan Eskom vereffen is. Die finale betaling het ‘n uitgerekte faktuurgeskil beëindig en die onmiddellike gevaar van elektrisiteitsonderbrekings verwyder. In ‘n onderhoud met die SABC in Diepsloot sê Morero die skikking demonstreer die stad se verbintenis tot verantwoordelike finansiële bestuur, die vermindering van elektrisiteitsverliese en belegging in kritieke infrastruktuur:
# President Masoud Pezeshkian van Iran beskryf die memorandum van verstandhouding wat middel-Junie met Amerika onderteken is, as die beste manier om weg te beweeg van ‘n situasie van “nie oorlog of vrede” nie. Die memorandum het ʼn tydperk van 60 dae begin vir onderhandeling om die oorlog te beëindig en ʼn ooreenkoms oor Teheran se kernprogram te bereik. Die lande kon egter nie tot ʼn vergelyk kom nie. Pezeshkian erken sy land staar ernstige ekonomiese probleme in die gesig weens toenemende Amerikaanse sanksies, en kan nie vir ewig met die oorlog voortgaan nie.
# Motorsport: McLaren-renjaer Lando Norris het die Nederlandse Grand Prix gewen. Die Brit het voor die Mercedes-paar, Kimi Antonelli en George Russell, oor die wenstreep gejaag. Lewis Hamilton en Charles Leclerc van Ferrari is onderskeidelik vierde en vyfde. Die tuisskare se gunsteling, Max Verstappen van Red Bull, is uit na slegs een ronde. Die uitslag laat Antonelli met ʼn kampioenskapsvoorsprong van 59 punte voor Russell. Norris sê sy motor moet nog baie verbeter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-559-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-626-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….